23 August 2018 | Plaaslik

Plankryers wys kinders hoe

Tanja Bause - Die afgelope sewe jaar kom ’n groep branderplankryers van Suid-Afrika jaarliks Namibië toe om vir kinders en volwassenes lesse in branderplank- en strandplankry (“skimboarding”) te gee.

Hulle bied dit verniet vir ervare ryers en beginners aan.

Vanjaar het die groep uit drie mense bestaan. Die lesse word vir ’n week aangebied waarna ’n groot kamp gehou word waarheen deelnemers én die hele gemeenskap genooi word.

Me. Rhythm Steward is in die Verenigde Koninryk gebore en het op 12-jarige ouderdom Namibië toe verhuis. Op 14 het sy begin branderplankry. Sy was laas jaar in Suid-Afrika waar sy kinders van informele nedersettings touwys gemaak het, en vanjaar is vyf kinders uit die DRC- en Mondesa- informele nedersetting op Swakopmund vir lesse geneem.

“Dit is die eerste keer dat die kinders op ’n branderplank staan. Hulle was baie entoesiasties en het dit baie geniet. Ek wil dit in die toekoms uitbrei en nog méér minderbevoorregte kinders leer,” het sy gesê.