05 September 2018 | Plaaslik

Pikkewyne is tuis

Tanja Bause - Die vier Afrika-pikkewyne wat laas week ’n saamrygeleentheid van Swakopmund na Lüderitz gesoek het, is die naweek met die !Anichab-navorsingsboot terug huis toe.

Die boot, wat aan die ministerie vir visserye en mariene hulpbronne (MFMR) behoort, was sedert die begin van Mei in Walvisbaai vir instandhouding. Curious George, Private, Wilde Thing en James Penguin 007 was met die vertrek aan boord.

Die vier is aan die begin van Augustus met olie besmet tussen Walvisbaai en Sandwich-hawe opgetel. Mnr. Mark Boorman en sy vrou, dr. Sandra Dantu, van die Penguin-rehabilitasiesentrum het hulle gewas en gerehabiliteer.

Mnr. Rian Jones van die MFMR het die pikkewyne in Lüderitz ontvang ná hul 24 uur lange bootreis.

“Hulle is in uitstekende kondisie en sal Saterdag op die laatste vrygelaat word. Ons wil net seker maak hul natuurlike olie wat saam met die besmette olie tydens die skoonmaakproses uitgewas is, het herstel en dat hulle waterdig is,” het Jones gesê.

“Ek laat hulle nou gereeld swem, wat selfversorging inspireer, en weer die afskeiding van die natuurlike olie en dus die waterdigtheid versnel.”

Die pikkewyne is terug Lüderitz toe geneem omdat daar langs die kus groot Afrika-pikkewyne kolonies is.

Die pikkewyne van Swakopmund is nou saam met twee ander wat verhonger in en rondom Lüderitz gevind is.

“Die twee was nog in die sogenaamde ‘Blue’-fase, wat beteken hulle was jong voëls wat vir die eerste keer see toe is. Swak kondisie en 'n sterk see is die mees waarskynlike oorsaak van hulle verhongerde toestand,” het Jones gesê.