31 August 2018 | Vervoer

Pendelaars hóés van môre af vir vervoer

Tariewe vir taxi’s, busse styg met 20%

Ronelle Rademeyer - Taxiritte en busvervoer kos van môre af 20 persent méér.

Dit beteken ’n taxirit van Katutura af na Windhoek se sentrale gebied sal voortaan nie meer N$10 nie, maar N$12 kos.

Hoe verder weg ’n woonbuurt van Katutura af is, hoe hoër is die tarief. Pendelaars na Klein Windhoek sal voortaan N$24 betaal, na Cimbebasia N$42 en na Klein Kuppe N$45,60.

Die aankondiging oor dié lank verwagte verhoging is gistermiddag deur die voorsitter van die Padvervoerraad, mnr. Percy McNally, gemaak.

Hy het joernaliste en belanghebbendes in die bus- en taxibedryf meegedeel dat tariewe ná deegelike oorweging op 1 September met 20 persent sal styg.

Dié raad het onlangs aansoeke van drie vakbonde vir die verhogings ontvang. Die Namibiese Bus- en Taxivereniging (Nabta) het vir ’n 20%-verhoging gevra en die Namibiese Openbare Passasiervervoervereniging (NPPTA) ’n 10%-verhoging. Albei verteenwoordig eienaars van taxi-ondernemings.

Die Namibië Vervoer- en Taxivakbond (NTTU), wat taxidrywers verteenwoordig, het aangedring op ’n 50%-verhoging.

McNally sê die raad het met die onderskeie instansies sowel as met pendelaars gesprekke gevoer. Hy het hulle vir hul waardevolle insette bedank.

Volgens hom het die raad die swak ekonomie en hoë lewenskoste in aanmerking geneem, tesame met die feit dat tariewe in 2014 laas aangepas is en brandstofpryse intussen skerp gestyg het.

Mnr. John Mutorwa, minister van werke en vervoer, het vroeër verduidelik die Padvervoerraad, wat ingevolge die Wet op Padvervoer, nr. 74 van 1977, ingestel is, het alleenreg op die goedkeuring van prysverhogings.

Die wet beperk verhogings tot 10% op ’n slag, en koppel goedkeurings aan die brandstofprys, het hy gesê.