12 September 2018 | Sport

Pavaza sê nee vir omkoopgeld

Vir die derde keer in sy loopbaan het die Namibiese sokkerskeidsregter Jackson Pavaza 'n voorval by die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) aangemeld waar hy omkoopgeld voor sy verskyning as blaser in 'n kontinentale wedstryd aangebied is.

Pavaza het aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê hy is die afgelope Sondag in Kigali, hoofstad van Rwanda, 'n bruin koevert vol geldnote aangebied voor die 2019 Afrika Nasiebeker kwalifiserende wedstryd tussen dié land se nasionale sokkerspan en die Ivoorkus.

Die wedstryd het met 2-1 in die guns van die gedugte Ivoorkus geëindig.

Pavaza sê voor die wedstryd het twee mans hom benader en 'n bruin koevert aangebied om die uitslag te manipuleer. Een van hulle het beweer hy is die sekretaris-generaal van die Rwandese sokkervereniging. Die skeidsregter het eers gesê hy weet nie of dit die waarheid is nie, maar het later bevestig dat dit inderdaad Francois Regis Uwayezu was toe ons susterkoerant vir hom 'n foto vir identifikasie gestuur het.

“Ek het nie die geld probeer tel nie. Ek het net vgesê ek aanvaar geen geskenke van enigiemand nie, soos wat CAF se regulasies voorskryf. Ek het die aanbod van die hand gewys en het die voorval by CAF aangemeld.”

In Juniemaand vanjaar het Pavaza ook alarm gemaak nadat hy voor 'n CAF Konfederadiebeker-wedstryd tussen klubspanne van Marokko en Ghana omkoopgeld aangebied is.

Nog 'n vorige keer was in 2015, in die CAF Kampioeneliga tussen klubspanne van Soedan en Angola.

Volgens Pavaza het hy die aanbiedinge verwerp om sy integriteit en sy loopbaan as skeidsregter te beskerm. Skeidsregters wat tevore vir die ontvangs van omkoopgeld betrap is, is vir jare of selfs lewenslank uit die sport geskors.