14 June 2019 | Ekonomie

Paashaas bring soet nuus vir buurland se ekonomie

Kleinhandelverkope nog nie herstel

William Horne



Die Paashaas het oënskynlik Suid-Afrikaners se leë trollies in April voller gelaai.

Dit kom ná die maer dae van die eerste kwartaal se kleinhandelverkope en algehele droewige ekonomiese omstandighede tot en met einde Maart.

Maar nou is die vraag of die Paas-langnaweek ál rede was wat dié belangrike syfers opgestoot het.

Suid-Afrikaners koop steeds nie méér kosprodukte nie, maar verkope in dié kategorie is darem uiteindelik weer dieselfde as 'n jaar vantevore.



VERBRUIKER HERSTEL

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Woensdag sy jongste kleinhandelsverkoopsyfers uitgereik. Tesame met die publikasie van BankservAfrica se indeks van ekonomiese transaksies (Beti) blyk dit dat verbruikers weer net-net op hul eie bene kan staan en die land se ekonomie aan die gang kry.

Kleinhandelverkope teen konstante 2015-pryse (om die effek van inflasie uit te haal) het in April met 2,4% op 'n jaargrondslag toegeneem. Dit is die hoogste groeikoers sedert November.

Suid-Afrikaners sukkel steeds met veral twee soort produkte in hul begroting: kos en huisverbeteringe.

Kosverkope, wat in Maart nog op 'n jaargrondslag voortdurend gedaal het, het uiteindelik 'n keerpunt bereik.

Leër en leër trollies was vir bykans 'n halwe jaar die realiteit van talle verbruikers, maar April se verkope van kos en drank was op 'n jaargrondslag uiteindelik nie meer negatief nie. Groei was 0%, wat beteken volgens volume is dieselfde hoeveelheid kos as 'n jaar gelede aangeskaf.

In Maart was dié groeikoers nog -2,4%, in Februarie -1,3%, in Januarie -1,9% en in Desember -2,4%.

Al waar geen keerpunt nog mani­festeer nie, is in die verkope van produkte vir ­huisverbeteringe, wat in April op -2,4% teenoor April 2018 gestaan het.

Dié twee kategorieë is die enigstes uit die sewe kategorieë van kleinhandelverkope wat die SSA meet, wat nie op 'n jaargrondslag groei aangeteken het nie.

Vergeleke met laas maand is dit 'n merkwaardige verbetering. In Maart was daar net twee kategorieë wat wel gegroei het. – Netwerk24