28 August 2018 | Vervoer

Paaie knip lewens kort

Trein ontspoor

Otis Finck en Augetto Graig



Die afgelope langnaweek het Namibië se paaie weer eens hul tol geëis met nege ongelukke, waarin twee mense gesterf het en vyf beseer is.

Volgens mnr. Sean Naude, van die Namibian Marshall Rangers, is die toename in ongelukke waarby diere betrokke is kommerwekkend.

“Ons het mense gewaarsku oor die gevaar van donkies op die pad naby Omeya, en net die volgende oggend gebeur dié ongeluk toe – 'n koedoe is in die Noorde, sowat 10 km van Divundu af op pad van Katima af, gestamp. Daarná was daar 'n sterfte 3 km voor Otavi toe 'n perd gestamp is. Die bestuurder is op slag dood,” het hy gesê.



Voetgangers sterf

Nampa berig 'n 35-jarige ma en haar seun het in 'n ongeluk omgekom waarby 'n ongelisensieerde bestuurder glo betrokke was. Die 18-jarige bestuurder is in hegtenis geneem kort ná hy drie voetgangers glo raakgery het.

Die voetgangers het die pad tussen Outapi en Ruacana oorgesteek toe die ongeluk plaasgevind het. Die Namibiese polisie (Nampol) se woordvoerder in die Omusatistreek, me. Linekela Shikongo, het bevestig die ongeluk het omstreeks 19:45 Donderdagaand gebeur.

“Twee van die voetgangers is op slag dood, en die derde, me. Naapopye Beata Naapopye, is met ernstige beserings na Outapi se distrikshospitaal geneem,” sê Shikongo.

Naapopye (15) is later na die Oshakati-staatshospitaal verplaas.

Haar tante, me. Namutenya Teodensia Shikongo, van Oikwa in die Outapi-kiesafdeling, is die een oorledene, en haar eenjarige seuntjie, Akwenye Herman Mwatukange, het ook gesterf.

Die bestuurder van die voertuig sal vandeesweek in die landdroshof op Outapi verskyn.



Band bars glo

Nog 'n dodelike ongeluk is Vrydag op die Facebook-blad “Accidents in Namibia” aangemeld.

Die band van 'n sedanvoertuig het omstreeks 13:10, sowat 20 km buite Tsumeb op die B1- Oshivelo-pad, vermoedelik gebars.

Die motor het verskeie kere gerol en die vroulike bestuurder daarvan is op slag dood.

Haar kinders, 'n seun van 18 en 'n dogter van 11, is ernstig beseer en na die Tsumeb-hospitaal geneem.

Saterdagmiddag is berigte van roekelose bestuur ontvang kort voor 'n wit, dubbelkajuit-bakkie 15 km van Windhoek af op die Rehoboth-pad by 'n ongeluk betrokke was.

Van die vyf insittendes was twee in die wrak vasgekeer en moes uitgesny word.

Al vyf, wat 'n jong kind insluit, is vir behandeling hospitaal toe geneem.



Lorrie en trein bots

Aansienlike skade is op Walvisbaai aangerig toe 'n lokomotief ontspoor het ná dit met 'n vragmotor gebots het, wat 'n kruising oorgesteek het.

Adj.komm. Erastus Iikuyu, koördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, het bevestig nie die treindrywer óf die lorriedrywer is beseer nie.

Die vragmotor behoort aan Rhino Trek Transport.

TransNamib se uitvoerende hoof, mnr. Jonny Smith, het die toneel kort ná die ongeluk besoek.

Hy het 'n beroep op voertuigbestuurders gedoen om ag te slaan op verkeerstekens wat by spoorwegkruisings aangebring is.

Om die oorskot van die ongeluk op te ruim moes 'n hyskraan en voorlaaier gebruik word.

Die ongeluk het in Saterdag se vroeë oggendure plaasgevind, en het die vloei van treinverkeer na die res van Namibië, asook padvervoer by dié besige kruising by Hanna Mupetamistraat vertraag.