12 September 2018 | Sport

Oudspeler van Ghana rig Tura af

Die Windhoekse sokkerklub Tura Magic het gister die aanstelling van Mohammed Gargo as hoofafrigter van sy manspan aangekondig.

Hy vervang James Britz wat aan die einde van die 2017-2018 seisoen bedank het.

Die 43-jarige Gargo, wat 20 wedstryde as ’n verdediger vir Ghana se nasionale Black Stars gespeel het, is glo by Maandagaand se oefening aan die spelers bekend gestel.

Die span het begin oefen ter voorbereiding op die 2018-2019 seisoen van die MTC Namibiese Premierliga (NPL) wat na verwagting in die eerste week van Oktober sal afskop.

Die nuwe afrigter het tien jaar ondervinding as afrigter van klubs in sy geboorteland Ghana. Voordat hy in 2009 tot afrigting toegetree het, was hy ook ’n beroepspeler by verskeie klubs in Ghana en in Europa.

Hy was een seisoen by AC Torino in Italië en ook kortstondig by Borussia Dortmund en Bayern München in Duitsland, asook Stoke City in Engeland, voordat hy vir langer ’n tuiste by die Italiaanse klubs Udinese Calcio en Genop gevind het.

Sy wedstryde vir Ghana tussen 1992 en 2001 het ’n verskyning by die 1992 Olimpiese Spele in Barcelona ingesluit, waar die Black Stars die bronsmedalje behaal het.

Tura Magic se klubvoorsitter, Peter Nakurua, het Gargo met sy aanstelling gelukgewens en voorspoed met hul voorbereiding en deelname aan die NPL-seisoen toegewens.

Volgens Nakurua sal die klub binnekort aankondigings oor meer aanwinste en vrystelling van spelers doen sodra die voorseisoen afgehandel is.