15 May 2019 | Rubrieke

Onderwys - Die kreef mag nie gewoond raak

Dit is nou bekend dat die African National Congress verlede week die algemene verkiesing in die Republiek van Suid-Afrika gewen het.

Die ANC het 57.38 persent van die stemme op hom verenig en het gevolglik nie nodig om ooreenkomste met enige van sy opponente aan te gaan nie. Wat egter duidelik is, is dat die party se prestasie sedert die vorige verkiesings met 'n paar persentasiepunte afgeneem het.

Politieke ontleders wy hierdie afname toe aan korrupsie, swak diens­lewering, politieke arrogansie en middelmatigheid. Die verblydende nuus is dat die ANC nie tweederdes van die stemme op hom kon verenig nie; die demokrasie en tweederde meerderhede is nooit goeie bedmaats nie.

Die ANC, met sy heroïese geskiedenis, het in die Zuma-era totaal ontaard. Die agteruitgang in dienslewering en in die gesondheidsdienste, die Eskom- en Prasa-skandale, die tragiese Isidimeni-verhaal en die skandalige manewales van Ace Magashule het hiervoor gesorg. Wat ontstellend is, is dat baie leiers en aanhangers van die ANC bewus hiervan was en niks nie, of weinig gedoen het. Die vraag waarmee waarnemers nog lank gaan worstel, is waarom die ANC-leierskap so lank geneem het om iets konstruktiefs te doen.

Die verskynsel dat burgers aan skandalige gedrag van verkose leiers “gewoond raak”, is redelik algemeen.

Voor en selfs na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die oorgrote meerderheid van die Duitse gemeenskap in Hitler geglo en verby sy dwaashede gekyk. Een kenner het opgemerk:”Hitler and the German people shared each other's follies and foolishness.”

'n Gevaarlike situasie ontstaan wanneer die burgery onkrities raak en Gods waters maar oor Gods akkers laat loop.

Sedert die aanvang van hierdie rubriek het ek benadruk dat dit tans nie goed met die Namibiese onderwysstelsel gaan nie. Die stelsel word geknel deur 'n gedurige tekort aan geld, hoë herhaling- en uitvalsyfers, tienerswangerskappe en 'n erge gebrek aan klaskamers, ablusiegeriewe en skoolmeubels. Die graad 10- en 12-uitslae is ook nie die vertoonvenster wat dit moet wees nie.

Te midde van hierdie gebreke sien 'n mens ook die gebrek aan kreatiwiteit, inisiatief en die politieke wil om probleme aan te spreek.

Die moontlikheid dat die Namibiese nasie hieraan gewoond kan raak en dat middelmatigheid en swak prestasie as die norm aanvaar kan word, is baie ontstellend.

Die gemeenskap is dikwels stil en dring nie aan op inisiatiewe en strategieë om die situasie reg te ruk nie. Die verskoning' “daar is nie geld nie”, word sonder meer as die antwoord op alle gebreke aanvaar.

My vrese is dat ons met blindheid geslaan kan word. Dit is om hierdie rede waarom ek telkens terugkeer na die konsep van eienaarskap van, en gemeenskapsverteenwoordiging in die Namibiese skolestelsel.

Ministeries van onderwys het lankal nie meer die uitsluitelike eienaarskap van onderwys nie. Die verantwoordelikheid van skoolrade om oor die welsyn van hul skole te waak, kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Skoolrade kan ingevolge die Onderwyswet enigiets wat hierdie welsyn bedreig, ondersoek en indien nodig, na die uitvoerende direkteur verwys vir verdere aandag. Dit is waarom dit uiters noodsaaklik is dat skoolrade voorsien moet word van 'n indeks van aanduiders van kwaliteitonderwys, wat hulle in staat sal stel om die nodige en juiste vrae te vra.

So 'n indeks behoort onder andere skoolstatistiek, onderwyser-leerling- en leerling- klaskamerverhoudings, konstruksietempo's, handboekbestuur, vak- en periodetoekenning, onderwyser- en leerlingskoolbywoning, skoolbesoeke deur inspekteurs, vakadviseurs en ander streeksamptenare, opleiding en ervaring van onderwysers en skoolveiligheid in te sluit So 'n indeks moet nie net aan skoolrade voorsien word nie, hulle moet opleiding ontvang om dit deeglik te verstaan.

Skoolrade het ook die reg op toegang tot verslae van inspekteurs, vakadviseurs en voorraadbeamptes.

Ons mag nie in die kultuur verval om swak en middelmatige ­prestasies eenvoudig te aanvaar nie. Ons ­kinders verdien beter!