04 September 2018 | Landbou

Ombudsman wil minister oor skaapskema spreek

Tussentydse bemarkingsreëling ingestel

Ronelle Rademeyer - Die ombudsman, adv. John Walters, het 'n vergadering met die minister van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb, aangevra om die voorstelle in sy verslag oor die kleinveebemarkingskema te bespreek.

Die ombudsman het vroeër vanjaar 'n omvattende ondersoek na die skema gedoen om die impak daarvan op die ekonomiese welstand van die skaapbedryf sedert sy inwerking­treding op 1 Julie 2004 te bepaal.

Dit was nadat die Namibië Landbou-­unie (NLU) sy kantoor versoek het om die negatiewe uitwerking van die skema te ondersoek in die lig van die primêre produsent se reg op reg­verdige handelspraktyke soos dit in die Grondwet gewaarborg word.

Die aanbeveling in die verslag is dat die skema produsente erg benadeel het en afgeskaf moet word.

Daarin word na verskeie vorige ondersoeke en verslae van die afgelope jare gewys waarin die rampspoe­dige gevolge reeds breedvoerig uitgestippel is.

Terwyl die bedryf agteruitgegaan het, is geen ingrypende stappe egter van regeringskant gedoen om dit te verhoed nie.

Walters het gister by navraag gesê hoewel die minister reeds sy verslag onder oë gehad het, wil hy dit graag met hom bespreek.

“Dit is vir die ombudsman moeilik om aanbevelings af te dwing. Daarom wil ek dit met hom bespreek en sy gevoel daaroor kry,” sê hy.

Sedert die afhandeling van sy ­ondersoek en die voltooiing van die verslag sowat drie maande gelede, het Brukarros Meat Processors (BMP) buite Keetmanshoop ook ophou slag.

Dit beteken daar is nou net een skaapuitvoerabattoir wat nog slag en dit is Natural Namibian Meat Packers op Aranos, wat dit op 'n klein skaal doen.

Die Vleisraad van Namibië moes gevolglik die skema aanpas omdat produsente nie die geleentheid het om by plaaslike uitvoerabattoirs 'n kwota op te bou sodat hulle in Suid-Afrika kan bemark nie.

Die 1:10-maatreël van die skema vereis van 'n produsent om vir elke skaap wat hy lewend wil uitvoer na 'n abattoir in Suid-Afrika, een by 'n plaaslike uitvoerabattoir te laat slag.

Die tussentydse noodreëling, wat tot 15 November sal geld, behels dat hulle dieselfde hoeveelheid skape wat hulle die afgelope ses maand plaaslik laat slag het toe BMP nog in bedryf was, lewend kan uitvoer.

Intussen werk die Vleisraad, saam met die bedryf, aan 'n voorstel wat hopelik 'n einde aan die voortslepende bemarkingskrisis sal bring.