08 March 2018 | Kuns en vermaak

Nuwe baadjie vir Herero-radiostasie

Hoewel elke Jan Rap en sy maat aan sosiale media verslaaf is, is daar steeds radiostasies met getroue en gereelde luisteraars.

Die welbekende plaaslike Herero-radiostasie het onlangs in die hoofstad 'n nuwe baadjie gekry.

Dié NBC-stasie heet nou Omurari FM, wat “kommunikasiemedium” beteken.

Volgens me. Marina Matundu, Omurari FM se bestuurder, verteenwoordig die nuwe naam die ou Herero-stasie se oorgang vanaf die koloniale era na vandag.

“Om die eenheid te handhaaf wat Namibiese onafhanklikheid meegebring het, het ons die bul by die horings gepak en besluit om die naam te verander,” het sy gesê.

Matundu het gesê die radiodiens se personeel het geswoeg om dié droom 'n werklikheid te maak.

Tydens die bekendstelling van die nuwe naam het mnr. Mbeuta Ua-Ndjarakana, permanente sekretaris van die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie, gesê die naam is reeds vir 'n geruime tyd in gebruik, maar is nou amptelik.

“'n Naam moet identiteit, waarde en betekenis hê. Sonder dié drie kan dit nie as 'n naam erken word nie,” het hy gesê.

Volgens mnr. Cassius Moeti, wat verantwoordelik is vir handelsmerk-aktivering, sal verskeie NBC-radiostasies in die toekoms nuwe identiteite aanneem.