11 September 2018 | Sport

Novak ewenaar Pete met 14de Slam-titel

Novak Djokovic het Sondag vir die derde keer by die Amerikaanse Ope geseëvier en trek nou in die derde posisie gelyk met die legendariese Pete Sampras op 14 Grand Slam-titels.

Die Serwiër was met 6-3, 7-6 (7/4), 6-3 baas teen Juan Martin del Potro van Argentinië.

Djokovic, in sy agtste eindstryd in New York en die kampioen in 2011 en 2015, is nou net drie major-titels agter Rafael Nadal en ses agter die rekord van 20 wat deur Roger Federer gehou word.

Die 31-jarige Djokovic, wat verlede jaar se toernooi weens ’n elmboogbesering misgeloop het wat gedreig het om sy loopbaan te kniehalter, het boonop vir die derde keer die Wimbledon- en VSA-Ope-krone in dieselfde jaar verower.

Del Potro, derde op die wêreldranglys, het in slegs sy tweede Grand Slam-eindstryd verskyn nadat hy juis by Flushing Meadows nege jaar gelede as die Amerikaanse Ope-kampioen gekroon is.

Djokovic se oorwinning beteken 50 van die laaste 55 Slams is verower deur die “Groot Vier” bestaande uit Federer, Nadal, Djokovic en Andy Murray. – Netwerk24