15 April 2019 | Misdaad

Nimt se hoof en sy adjunk glo doodgeskiet toe hulle vir werk opdaag

Erwin Leuschner op Arandis - Mnr. Eckhart Mueller (foto), die uitvoerende direkteur van die Namibië Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt), en sy adjunk, mnr. Heimo Hellwig, is omstreeks sesuur vanoggend na bewering koelbloedig doodgeskiet toe hulle vir werk by dié kampus opdaag.
Dit blyk hulle het albei pas aangekom en was op die punt om die voordeur van die administratiewe gebou oop te sluit toe 'n onbekende aanvaller na bewering op hulle losgebrand het.
'n Getuie in die omgewing het "baie skote gehoor wat afgevuur word". In hierdie stadium is die koördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, komm. Erastus Iikuyu, nog nie bereid om meer inligting aan die media bekend te maak nie. 'n Verdagte is nog nie geïdentifiseer nie.
Die media is ook nie toegelaat om foto's op die toneel te neem nie.
Die polisie is besig om geskokte personeellede en studente huis toe te stuur.