08 June 2018 | Maatskaplik

Nóg babas vir Tsumeb-weeshuis

Henriette Lamprecht – Nóg ’n baba het ’n tuiste by die Tov-liefdadigheidsorganisasie vir vigswesies en weerlose kinders op Tsumeb gevind.

Dié babaseuntjie is op 26 April op Gobabis gebore en sal op die ouderdom van drie maande sy intrek by Tov neem.

Volgens eerwaarde Edward Amadhila help die organisasie die ma intussen met N$300 ’n maand.

“Ons benodig klere en melk en ’n selfoon. Sy gebruik tans haar ouma se selfoon,” het Amadhila gesê.

“Hierdie baba sou dood gewees het as dit nie vir die artikels in die koerant was nie. Die ma hou die baba vir drie maande en dan kom hy na ons toe om hom groot te maak.”

Die derde baba om ’n heenkome by Tov te vind, is Maandag op Keetmanshoop gebore. Ook háár ma ontvang N$300 per maand van die organisasie, totdat sy op drie maande haar intrek by Tov neem.

“Die ma het die baba vyf keer probeer afdrink, maar ons is bly die dogtertjie is gesond gebore. Ons dank die Here daarvoor.”

Volgens Amadhila kan die organisasie tans net met drie babas help.

“Die behoefte is baie groot, maar ons kan nou net hierdie drie babas help wat regtig in moeilike omstandighede gebore is.”

Lesers wat graag die organisasie wil ondersteun met geldelike bydraes of warm klere, komberse, babaklere en melk, kan Amadhila kontak by (064) 221 289/221 292, 081 274 8618 of [email protected]

Die organisasie se bankbesonderhede is: Tov HIV/AIDS OVC's organization, First National Bank, Tsumeb, rekeningnommer 62096229804, takkode 080873.