16 May 2019 | Regering

NEEEF strem sakevertroue

Bedryf wanhopig

font face="Verdana" >

Catherine Sasman – Namibië se private sektor het ’n betekenisvolle hoeveelheid vertroue in die regering verloor en is in die algemeen negatief oor sy toekoms in die land.

Dít is die verdoemende uitslag van ’n onlangse opname wat die onafhanklike Ekonomiese Beleidsnavorsingsvereniging (EPRA) gedoen het.

Dié opname het ten doel gehad om plaaslike besighede se kommer oor die regering se onlangse populisitiese beleide te ondersoek.

Mnr. Eben de Klerk van EPRA sê die vereniging is ’n voorstander van die ontwikkeling van pragmatiese, volhoubare ekonomiese beleid in Namibië, wat ook groei bevorder, en derhalwe pragmatiese werkskepping en die bevordering van gelykheid aanmoedig.

EPRA het sowat 600 ondernemings in Namibiese besit, van eenmansake tot groter ondernemings met meer as 500 werknemers, genader. Dié ondernemings is ook hoofsaaklik in die tersiêre sektor.

Die opname is gedoen om hul vlak van sakevertroue in die besigheidsklimaat te bepaal ná die hewige bespreking van voorgestelde wetgewing, waaraan steeds geskaaf word.

Aanvanklik is dié wetgewing die Nuwe Konsepraamwerk vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (NEEEF) genoem, wat op vrywillige hervormings met aansporings gebaseer was.

Later het dit die Nuwe Wetsontwerp vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (NEEEB) geword, ’n voorgestelde wet gemik op ’n verpligte afname in wit eienaarskap en bestuur by plaaslike besighede.

Een van die mees omstrede pilare van NEEEB, wat ongemak by besighede veroorsaak het, was die verpligte 25% aandele wat aan benadeeldes afgestaan moet word.

Dié voorstel sou verwyder, heroorweeg of geherstruktureer word, maar aangesien NEEEB steeds nie afgehandel is nie, is daar onsekerheid hieroor.

Dit lyk of die voorgestelde Ekonomiese Bemagtigingsadviesraad deel van die nuwe konsepraamwerk sal bly, wat in die toekoms die onbeperkte bevoegdheid sal hê om wit eienaarskap en bestuur by alle Namibiese ondernemings te beperk.

Besighede waarvan die eienaars hoofsaaklik wit is, het begin wonder of hulle ’n toekoms in die land het.

“Daar is beslis ’n negatiewe gevoel oor die land se toekoms. Volgens my spruit dit uit swak en verdelende regeringsbeleide wat die ekonomie seermaak. Dié beleide stuur die boodskap dat jy as ’n besigheid gaan seerkry; ons gaan die ekonomie nie laat groei nie, en ons gee nie om nie,” sê De Klerk.

De Klerk sê plaaslike besighede het ’n betekenisvole hoeveelheid vertroue in die regering verloor.

“Dit is wat sakemense op straat sê. As jy met die regering praat, is dit of hulle op ’n ander planeet bestaan,” sê hy.

Een van die doelwitte van die opname is om die werklikheid van Namibië aan te spreek.

“Ons sien die gevolge hiervan in ons kwynende ekonomie en in betekenisvolle werksverliese, maar ons spreek nooit die oorsake aan nie. Daar is verskeie oorsake wat deur die reghering se mooipraatjies toegesmeer word,” sê hy.

Ekonomiese aanduiders

Die antwoorde op vrae in die opname wat met ekonomiese aanduiders verband hou, lyk ewe droewig.

’n Oorweldigende 69% van die besighede het gesê hul inkomste het in die laaste twee jaar effens of wesenlik gekrimp.

Slegs 9,44% het gesê hul inkomste het bestendig gebly, en ’n karige 6,11% het gesê hul inkomste het betekenisvol gegroei.

Die meeste besighede (32,2%) het gesê hulle het die afgelope twee boekjare geen beleggings in hul ondernemings gemaak nie. Slegs 11,6% het gesê hulle het wesenlik in hul besighede belê.

’n Groot persentasie (19,44%) het gesê hulle het beleggings wesenlik verminder.

Reuse- werksverliese het die afgelope jaar voorgekom.

Sowat 39,44% van die respondente het gesê hulle was genoodsaak om hul werksmag te verklein.

Slegs 12,22% het hul werksmag uitgebrei.

Sowat 31% van die besighede sal hul werksmag na verwagting vanjaar inkort, en minder as 10% voorsien dat hulle in staat sal wees om meer werknemers te huisves.

“Ek’s bevrees dié boodskap kom nie by die regering uit nie,” sê De Klerk.

Boonop alles glo 81% van die besighede in die opname die NEEEB sal betekenisvolle ekonomiese agteruitgang veroorsaak, en 75% glo dit sal nié tot uitgebreide ekonomiese bemagtiging lei nie.