20 August 2018 | Arbeid

NBC-werkers is steeds woedend

Toi-toi voor hek

Chrisjan Appolus, verteenwoordiger, NBC-werkers: “Hoe kan die NBC geld maak met ongelukkige werkers?”

Augetto Graig



Protes deur ongelukkige werknemers by Namibië se nasionale uitsaaier (NBC) duur voort.

Dié groep het Donderdag weer eens voor die uitsaaier se hoofkantoorhek betoog.

Onder leiding van deurwinterde betogers van die Staatsdienswerkersvakbond (Napwu) het werknemers gemarsjeer, gedans en geskree.

Volgens die NBC-werknemers se verteenwoordiger, mnr. Chrisjan Appolus, is pogings aangewend om met die uitsaaier se bestuur te onderhandel, maar tot dusver is dit nie duidelik wat die NBC se standpunt is nie.

“Ons het hulle van opsies verskaf wat hulle kan bekostig,” het Appolus gesê.

Volgens hom is jaarlikse salarisaanpassings van kritieke belang, en laai werknemers se frustrasie al meer op.

“Hoe kan die NBC geld maak met ongelukkige werkers?” het hy gevra.

Volgens Appolus is mnr. Sven Thieme, NBC-raadsvoorsitter, nooit beskikbaar nie en kon hy tot dusver slegs een vergadering met die raad bewerkstellig.

Thieme se afwesigheid is ook die rede waarom geen nuwe eise vir Donderdag se betoging voorberei is nie.

Appolus het gesê 'n beduidende getal NBC-werknemers is Donderdagoggend deur die uitsaaier se direkteur-generaal, mnr. Stanley Similo, toegespreek en gevra om nie aan die betoging deel te neem nie – tog het dit hulle nie gekeer nie.

Werknemers het vroeg in Junie aan 'n soortgelyke betoging deelgeneem.

Toe is kwessies uitgelig soos betalings aan derdeparty-diensverskaffers soos pensioenfondse, werksvoorwaardes en kon­trakwerkers wat nie voltyds aangestel word nie.