11 September 2018 | Sport

Namibiërs oorheers toetsreeks in Windhoek

Rolbal

Die Namibiese Rolbalvereniging het die afgelope naweek, van Vrydag tot Sondag, 'n inter­nasionale vierhoekige toetsreeks aangebied. Die drie ander spanne wat mee­geding het, was Zimbabwe, Botswana en 'n NBA Uitnodigingspan.

Hierbenewens is 'n reeks van drie toetse tussen die veteranespanne van Namibiese en Zimbabwe gespeel. Ongelukkig het Botswana nie 'n veteranespan gestuur nie.

Die toetsreeks vind elke tweede jaar plaas en word om die beurt deur die deelnemende lande aangebied. Die toetsreeks het begin as 'n jaarlikse toets tussen Suid-Afrika en Namibië se nasionale spanne. Dit het later 'n driehoekige toetsreeks geword toe Zimbabwe genooi is om aan te sluit.

Drie jaar gelede het Suid-­Afrika 'n bykomende span, die Junior Proteas, ingeskryf. Die kompetisie het ­vierhoekig geword met Suid-Afrika se twee spanne, Zimbabwe en Namibië.

Weens 'n gebrek aan borgskap het Suid-Afrika onttrek en Botswana is genooi om in sy plek te speel. Daar is ook besluit dat die gasheerland toegelaat word om twee spanne, die nasionale span en 'n uitnodigingspan, in te skryf.

'n Toets bestaan uit wedstryde in al vier dissiplines, naamlik enkelspel, parespel, driespel en vierspel. Drie punte word toegeken vir 'n oorwinning en een vir 'n gelykopuitslag.

Medaljes is vir elke dissipline en vir die algehele mans en vroue ­toe­geken. 'n Trofee is oorhandig aan die land wat eerste algeheel geëindig het.

Die wenners was soos volg:

Mans enkelspel: Namibië.

Mans parespel: NBA Uitnodiging­span.

Mans driespel: Namibië.

Mans vierspel: NBA Uitnodiging­span.

Mans algehele wenspan: Namibië.

Vroue enkelspel: Zimbabwe.

Vroue parespel: Botswana.

Vroue driespel: Namibië.

Vroue vierspel: Namibië.

Vroue algehele wenspan: Namibië.

In die veterane se toetsreeks word die mans- en vrouepunte saamgevoeg om die wenners te bepaal, hoewel medaljes vir elke dissipline toegeken is:

Enkelspel: Zimbabwe mans, Namibië vroue.

Parespel: Namibië mans, Namibië vroue.

Driespel: Namibië mans, Zim­babwe vroue.

Vierspel: Zimbabwe mans, Namibië vroue.

Algehele wenspan: Namibië.



Dit was 'n baie suksesvolle toernooi, ondanks die onverwagse koue weer. Die twee besoekende lande se spanne het hulself terdeë geniet en het Namibië vir sy gasvryheid gekomplimenteer.

Die NBA het einde Julie 'n nuwe uitvoerende hoof aangewys, wat net sewe weke gehad het om die geleentheid te organiseer. Avril Kotze, een van Namibië se veteraanspelers, het gesê die NBA se nuwe uitvoerende beampte het 'n briljante taak verrig.

Die spelers van Botswana het gesê hulle het 'n genotvolle tyd gehad en sal terugkom wanneer hulle weer genooi word.

Die span van Zimbabwe het die toernooi geniet, hoewel Champion Sibanda, een van hul veterane, uitgewys het dat daar geen sudsa (mieliepap) op die spyskaart was nie.