11 September 2018 | Sport

Namibiese kaptein op pad na Frankryk

Rugby

Tinus van Staden



Die Namibiese senter Johan Deysel het Vrydagaand in Durban sy laaste wedstryd vir die Haaie gespeel.

Hy sluit hom eersdaags by die Franse klubspan Colomiers aan.

Colomiers ding in die Pro D2 mee, Frankryk se tweede liga mee. Ná vier wedstryde bevind dié span hom tans 14de op die puntelys uit die 16 spanne wat in die reeks meeding.

Die huidige Namibiese toetskaptein sluit hom aan by sy landgenote Pieter-Jan van Lill en Torsten van Jaarsveld (beide Bayonne) en Casper Viviers (Suresnes) wat tans kontrakte in Frankryk het.

Verskeie ander insluitend Aranos Coetzee, Tjiuee Uanivi, Conrad Marais, Rohan Kitshoff en Theuns Kotzé het ook in onlangse jare vir Franse klubs gespeel.

Deysel (26) is Vrydagaand as plaasvervanger opgestuur in die Haaie se sege met 28-12 oor die Pumas in dié spanne se Curriebeker-wedstryd. Hy het ook een van sy span se vier drieë gedruk.

Hy het sy naam in 2015 in die geskiedenisboeke van Namibiese rugby verewig toe hy 'n drie teen die All Blacks by die Wêreldbeker-toernooi in Engeland gedruk het.

Hy het sy land reeds in 22 toetse verteenwoordig en het nege drieë gedruk. Sy pa Johan was ook 'n senter wat in die vroeë 1990's in 16 toetse gespeel en vyf drieë gedruk het.

Deysel sal hoop hy kry die kans om volgende jaar by die Wêreldbeker-toernooi in Japan wéér teen Nieu-Seeland te speel. Namibië is vir dié skouspel ook saam met Suid-Afrika, Italië en die repechage-wenner in 'n groep geloot.

Die boorling van Windhoek het hom in 2017 van die Luiperds by die Haaie aangesluit. Hy het ook tussen 2013 en 2016 vir die Pukke in die Varsitybeker-reeks gespeel, asook vir die Luiperds in die provinsiale reekse.

Deysel is vanjaar in elk van die Haaie se eerste drie Curriebeker-wedstryde as 'n plaasvervanger opgestuur.

In sy afwesigheid kan die vleuel Leolin Zas as 'n plaasvervanger oorweeg word vir die Haaie se volgende wedstryd in die reeks, op 22 September teen die Goue Leeus op Kingspark in Durban.

Die Haaie het dié week 'n loslootjie nadat hulle al drie hul eerste wed­stryde in die reeks met 'n bonuspunt gewen het. Ná die stryd teen die Goue Leeus pak hulle die Westelike Provinsie – die verdedigende kampioen en nog een van die vroeë gunstelinge – op Nuweland.

– Netwerk24 en eie berig