08 June 2016 | Visserye

Namibië begin reuse-navorsingsprojek oor varswatervis

''n Varswatervisprojek by die Kamutjonga binnelandse vissery-instituut naby Divundu, versamel inligting wat gebruik sal word in besluite oor beleidsformulering en die vestiging van beskermde visgebiede in Namibië.

Elvira Hattingh – Een van die grootste etiketteringprogramme van varswatervis in Suider-Afrika is in Namibië deur die ministerie van visserye en mariene hulpbronne in samewerking met die Noorweegse Instituut vir Natuurnavorsing (Nina) begin.
Dit sluit in dat sowat 6 500 visse plastiekpylmerkers en ‘n verdere 60 visse radiosenders in die Kavangorivier naby die Popa-valle en die Mahangu-gebied sal ontvang. Die visspesies wat geteiken gaan word, is hoofsaaklik die Afrika-tiervis (Hydrocynus vittatus), die driekolkurper (Oreochromis andersonii) en nembwe (Serranochromis robustus).
Die projek word van die Kamutjonga binnelandse visserye-instituut naby Divundu bestuur en vorm deel van ‘n reeks navorsingsprojekte oor die gedrag van varswatervis. Die projekte sal oor die volgende jare gesamentlik deur die ministerie en Nina uitgevoer word. Die inligting wat ingesamel word, sal gebruik word in besluite oor beleidsformulering oor die vestiging van beskermde visgebiede in Namibië asook om visvang te reguleer.
Mnr. Francois Jacobs, senior visserye bioloog by Kamutjonga sê die gebruik van eksterne merkers is een van die algemeenste maniere waarmee navorsers onder meer die beweging, groei, afsterwing en oorlewing van visse bepaal.
“Alhoewel dié metode selde groot vangsopgawes lewer, kan dit waardevolle langafstand migrasiedata lewer.
“Ons vang die visse deur middel van hengelmetodes, waarna ons dit in ‘n waterhouer plaas en met kleurstofmerkers etiketteer. Daarna word die vis gemeet en weer vrygelaat.
“Die ander metode wat ons sal gebruik om die visse te merk, is radiotelemetrie. Die tegniek bied hoë resolusie inligting van sekere individuele visse. Die visse wat van radiosenders voorsien word, sal vir ‘n jaar deurlopend gemonitor word,” het hy gesê.
“Radiosenders word per boot, op die voet of vanuit die lug met ‘n ligte vliegtuig gemonitor. Ná die identifikasie van ‘n vis se posisie, word ‘n reeks omgewings- en gedragsparameters aangeteken.
“Hierdie is egter ‘n duur metode en die ministerie vra dus dat die publiek alle gemerkte visse in die rivier teruggooi. Indien ‘n vis wel verwyder word, moet die merkers na Kamutjonga gestuur word.
“Die ministerie versoek die publiek om enige gemerkte visse weer in die rivier vry te nadat hulle die inligting op die merker aangeteken het.
“Al die nodige inligting asook die nommer waarheen die inligting via ‘n SMS gestuur moet word, is op die plastiekmerkers aangebring. Teken die viersyfer etiketnommer aan, die datum waarop die vis gevang is, die plek, asook die GPS-koördinate, indien moontlik. Meet dan ook die lengte van die vis en SMS die inligting na 081 286 8168,” het Jacobs gesê.
Jacobs sê visserye is waarskynlik meer waardevol vir Afrika as wat edelgesteentes vir die Westerse wêreld is.
“Binnelandse visserye beslaan 35% van die inname van diere-proteïen en tussen 2,5 en 4 miljoen Afrikane voer ‘n bestaan uit dié hulpbron.
“Ongelukkig word al minder navorsing oor varswatervis gedoen wat verdwyn, dalende getalle ervaar of in 'n krisis verkeer. Volgens voorste kenners sal ons geslag die uitsterwing van verskeie visspesies ervaar as gevolg van onkundigheid oor wat in vars water en met visse gebeur,” het hy gesê.
“Die varswater visseryesektor in die noordelike riviere van Namibië is een van ons belangrikste hernubare bronne. Die Zambezi en omringende mere steun ‘n varswaternywerheid van tussen N$75 miljoen en N$100 miljoen, bereken teen N$20 tot N$40 per kg vis. Dit maak van vis ‘n waardevolle kommoditeit.”
Die ministerie het sy dank uitgespreek teenoor die steun van die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Akwatiese Biodiversiteit (SAIAB) en die Nasionale Kommissie vir Navorsingwetenskap en Tegnologie van Namibië (NCRST).