12 July 2019 | Arbeid

Nafau-lid van korrupsie aangekla

Vakbond moet nog reageer

‘n Lid van die Namibiese Vakbond vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau), mnr. Sakeus Taapopi Shikongo (31), is die afgelope Dinsdag deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC) op klagte van korrupsie in hegtenis geneem.

Dit volg nadat Shikongo glo Hickory Creek Spur op Walvisbaai se bestuur N$5 000 se omkoopgeld gevra het in ruil daarvoor dat hy hul werkers oortuig om die maatskappy se voorgestelde 3%-verhoging per uur te aanvaar.

Die werkers wou ‘n verhoging van 9% tot 12% gehad het, het die ACC in ‘n nuusverklaring gesê.

Die kommissie is van Shikongo se versoek in kennis gestel en hy is in ‘n lokval gelei toe hy glo N$2 500 se omkoopgeld ontvang het.

Die ander N$2 500 sou na bewering uitbetaal word ná hy die Spur se werknemers oortuig het.

Shikongo het op 10 Julie in die Walvisbaaise landdroshof verskyn en sy saak is vir verdere ondersoek tot 19 Augustus uitgestel.

Borgtog van N$3 500 is aan hom toegestaan op voorwaarde dat hy twee maal per week by die Walvisbaaise polisiekantoor aanmeld en dat hy sy paspoort aan die ondersoekbeampte oorhandig.

Nafau sal na verwagting binnekort op die nuus reageer.