06 September 2018 | Rubrieke

’n Brief aan Mamma

Kinders kry is maklik.

Dis om hulle groot te maak, op te voed en te beskerm wat die probleem is.

My ma het altyd gesê baie mense dink jy moet ’n kind net ’n goeie opvoeding gee sodat hulle hul eie lewe kan aanpak en lei.

“Ja, dit is wel so. Jy moet jou kind die beste moontlike begin in die lewe gee, maar jou verantwoordelikheid as ouer hou glad nie op as die kind klaar is met studies en die huis verlaat nie. Om ’n ouer te wees, is ’n lewenslange verbintenis,” het sy gesê.

Daarvan kan ek getuig. Ek is al, kom ons sê maar “gevorderd” in die ouderdom, en tóg, as ek hartseer is, soek ek my ma.

Ek wil soos ’n klein kindjie op haar skoot opkrul en teen haar skouer huil, die enigste probleem hiermee is dat ek nou ’n bietjie te groot is en bang is ek versmoor my ma of druk haar dood. Maar dis nie die punt nie. Ek het my eie lewe, maar as ek regtig in die knyp is en hulp soek, gaan ek na my ouers toe waar ek altyd welkom is en van hulp, raad, liefde en drukkies verseker is.

Ek ken iemand wat tans swanger is en besig is met talle veranderinge in haar lewe rondom dié nuwe hoofstuk.

Ek ken die vrou goed, en het gedink as haar ongebore baba ’n brief sou kon skryf, sou dit só iets wees:

“Liewe Mamma,

Eerstens wil ek vir Mamma sê ek is baie dankbaar jy is my mamma. Kinders het baie liefde nodig en ek weet Mamma se hart loop van liefde oor. Nie net liefde vir my nie, maar liefde vir alles wat leef en beef. Ek luister vir Mamma as jy so met jou vriende gesels, en ek weet waarvan ek praat.

“Kinders het ’n veilige dak oor hul koppe nodig. Ek weet Mamma is tans besig om ’n huis te soek waar ek my eie kamer kan hê, dit gee vir Mamma nou baie stres, maar ek is dankbaar, want ek hoor Mamma in die aande as Mamma slaap so saggies snork en ek is bly dat ek my eie kamer sal kry.

“Dan is ek seker ek sal lekker kan slaap en net vir jou pla as ek honger is of jou mis en ’n drukkie en soentjie soek. Ek weet jy sal daar wees sodra ek roer.

“Kinders het ook kos nodig. Tans ek eet mos wat Mamma eet, en sodra ek die wêreld ingekom het, sal ons ’n gesprek moet hê. Dis nie dat ek honger ly nie, maar ek dink Mamma kan doen met ’n kookles of twee. Ek sê maar net dis iets waaraan ons kan werk. Ek sal Mamma in die kombuis help sodra ek kan staan, maar dit is nog ver in die toekoms en tot dan weet ek Mamma sal vir my sorg en my magie vol hou.

“Nog ’n ding wat ek uit Mamma se gesprekke kan aflei, is dat Mamma my onvoorwaardelik lief sal hê. Dit maak nie saak hoe ek lyk en wat ek eendag gaan wees nie. Ek kan nie wag om die donker plek te verlaat nie en om in Mamma se oë en glimlag te kan vaskyk nie.

“Sien Mamma binnekort,

Liefde, Smallie”