12 September 2018 | Gesondheid

Myle teen die pyn

Geen genesing, slegs pynbestuur

Tanja Bause – Geen marathon word net blindelings aangepak nie.

In die geval van mnr. Japie Greyvenstein (43) en me. Bettie du Plessis (65) gaan dit ook nie om dowe neute nie.

Dié twee gaan op 6 Oktober die Hangana-marathon van Swakopmund na Walvisbaai aanpak om geld vir die behandeling en medikasie van bejaardes met osteoartritis in te samel.

Greyvenstein self is vyf jaar gelede met osteoartritis gediagnoseer.

Dié siekte val die gewrigte aan waar spiere en bene verbind is.

“Dit is ’n siekte wat met baie pyn gepaard gaan. Daar is geen genesing daarvoor nie, slegs pynbestuur deur medikasie, oefening en baie strekoefeninge om styfheid te voorkom,” sê hy.

Greyvenstein het vir 22 jaar lank na-uurs fiksheidsklasse by ’n plaaslike gimnasium aangebied. Hy het ook gereeld fiets gery en aan sterkmankompetisies deelgeneem.

In 2008 het hy ’n nekwerwel tydens een van dié kompetisies gebreek.

“Ek het toe ook die kussing tussen my werwels in my laerug geskeur. Ek kon vir ’n jaar lank nie behoorlik loop nie en die trauma in my rug het tot osteoartritis in my heup en rug gelei.”

Greyvenstein kon ook nie meer fiets ry nie en het sokker begin speel.

Twee jaar gelede het hy weer na-uurse fiksheidklasse by sy huis begin aanbied.

Hy het die Lucky Star-marathon van Walvisbaai na Swakopmund reeds nege keer voltooi.

“Omdat dit baie pyn veroorsaak, kon ek nie in die afgelope vyf jaar aan enige marathon deelneem nie. Ek het vir tannie Bettie ontmoet en ons het begin gesels, en die idee om ’n laaste marathon te hardloop, is gebore.

“Dit gaan vir my ’n groot uitdaging wees en baie seer, maar ek sal vasbyt en dit nog een keer doen. As ek as jong man soveel pyn het, hoe moet bejaardes met osteoartritis nie ly nie? Dus gaan ons geld ten bate van hul pynmedikasie insamel en terselfdertyd kan ek my droom verwesenlik om 10 marathons te voltooi,” het hy gesê.

Du Plessis het op 52-jarige ouderdom eers begin hardloop.

“Ek het by ’n stapklub aangesluit. ’n Vriendin het toe besluit om die Lucky Star-marathon te doen en ek het besef ek sal hom nie kan klaarmaak as ek die 21 km wil stap nie – toe begin ek hardloop,” sê sy.

Intussen het sy al talle Lucky Star- en Hangana-marathons aan die kus voltooi.

Du Plessis het die Comrades-marathon al drie keer voltooi, en laas jaar het sy haar tiende Two Oceans-marathon voltooi.

“Dit was my laaste ultramarathon en in Oktober sal ek my laaste 21 km-marathon hardloop. Ek het gedink ek is klaar, maar nadat ek met Japie gesels het en hy my van die fondsinsameling vertel het, het ek besluit om die Hangana-marathon saam met hom te doen. Dit is immers vir ’n baie goeie doel.”

Sedert die ontstaan van die idee om geld vir die bejaardes in te samel byna ’n week gelede is reeds sowat N$10 000 ingesamel, waarvan Greyvenstein N$2 000 bygedra het.

Maatskappye wat by dié projek betrokke wil raak se logo’s sal op beide Greyvenstein en Du Plessis se hemde geborduur word.

“Enige bedrag, hoe klein ook al, is welkom en sal ’n groot verskil maak. Mense wat betrokke wil raak, kan my by 081 272 8412 skakel,” het Greyvenstein gesê.