11 September 2018 | Ongelukke

MVAF help met opleiding

Die Motorvoertuigongelukkefonds (MVAF) het 41 mediese personeellede opgelei om noodbehandeling aan traumapasiënte te verskaf. Dit sluit noodsorgpersoneel, dokters en verpleegsters in.

Die doel van dié opleiding, wat by die Universiteit van Namibië (Unam) se mediese skool aangebied is, is om die kapasiteit in noodsorg binne die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), sowel as die fonds te verhoog.

Volgens die MVAF is die opleiding genoodsaak deur ‘n gebrek aan voldoende behandeling op ongelukstonele en in veral streke wat hoë ongeluksyfers het. Dit sluit die Khomas-, Hardap-, Karas-, Kavango-Oos- en Otjozondjupa-streek in.

Die MVAF sê in ‘n verklaring die opleiding is in samewerking met Professional Emergency Care (PEC) aangebied, wat in Kaapstad, Suid-Afrika, gebaseer is.

Drie kursusse, naamlik internasionale lewensondersteuning (ITLS), gevorderde hart- en lewensondersteuning (ACLS), sowel as ’n instrukteurskursus in basiese lewensondersteuning (BLS), is volgens een van die opleidingskoördineerders, mnr. Brandon Diergaardt, aangebied.

Diergaardt is ook een van die fonds se gevorderde lewensondersteuningsparamedici.

Sedert die ontstaan van die opleidingsprogram drie jaar gelede het die fonds jaarliks sowat N$240 000 aan 120 deelnemers van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) bestee, wat in verskeie noodsorgprogramme opgelei is.

Die mediese skool het op sy beurt opleidingskoste laag gehou deur onder meer opleidingslokale en mediese toerusting te verskaf.

“Ons is trots op die rol wat ons daarin speel om ‘n positiewe bydrae tot die bevordering van nood- mediese sorg te lewer, wat help om lewens te red, kwaliteitsorg te verskaf aan dié wat deur padongelukke geraak word en beseerdes weer so gou moontlik in hul onderskeie gemeenskappe en die ekonomie op te neem,” sê me. Surihe Gaomas-Guchu, hoof van korporatiewe sake by die MVAF.