08 March 2018 | Menings

Méér as wyse gryses nodig vir vrede

Belangrike insigte spruit uit die Afrika-unie (AU) se Paneel van Wyses se vergadering hierdie week in Windhoek.

Tekortkominge in die tradisionele visie dat slim ringkoppe op diplomatiese wyse altyd konflikte beter kan besleg, mag nietemin nie misgekyk word nie.

Oudpresident Hifikepunye Pohamba is tans voorsitter van die paneel.

Dit is ‘n ope vraag of ‘n stoere beleid van nie-inmenging regtig die groter vasteland tot voordeel strek. Die konsep van dié paneel gaan ‘n bietjie verder, maar bly tog grootliks aan die beginsel getrou.

Anders as visepresident Nangolo Mbumba se versoek dat die paneel wyse raad in Afrika-leiers se ore moet fluister, is meer aktiewe bi- en multi-laterale gesprekke nodig om die talle voortslepende konflikte spoediger en meer doeltreffend te besleg. Om byvoorbeeld die Demokratiese Republikein die Kongo (DRK) net “dop te hou”, sal min vermag.

Vir baie lank betreur sommige reeds die feit dat Namibië self, weens die land se goeie stand, nie ‘n veel meer aktiewe diplomatieke rol in Afrika speel nie.

Wyslik het Pohamba talle groot nie-militêre bedreigings vir vrede, stabiliteit en vooruitgang gelys. Dit sluit bevolkingsaanwas, werkloosheid, verstedeliking, geweld en misdaad, siekte, dors en hongersnood in. Die probleme kan juis die vonk vir gewelddadige konflikte verskaf.

Die paneel se lys van suksesse moet groei, en diplomasie vir vrede en ontwikkeling moet minder “stil” en meer kragdadig geskied.

So sê ander

7 Maart 2018

Beeld, Die Burger en Volksblad sê

Die EFF, met sy leier, Julius Malema, aan die voorpunt, gaan voluit om etlike populistiese temas te dryf met die hoop om politieke munt daaruit te slaan.

Hy probeer die ANC en die DA terselfdertyd in politieke knyptange plaas om na sy pype te dans. En speel ’n roekelose rassekaart oor kwessies soos die onteiening van grond sonder vergoeding.

Ironies genoeg is dit juis Jacob Zuma, met wie die EFF in ’n amperse obsessiewe vyandskap geleef het, wie se politieke mantra hulle nou oorgeneem het.

Wilde dreigemente wat die beleggersgemeenskap – uit die binne- en buiteland – wegdryf, gaan nie armes se lot verbeter nie.

Suid-Afrikaners moet eerder saamstaan en almal se kundigheid inspan om die beste oplossings te kry vir doeltreffende dienslewering en toegang tot gelyke geleenthede vir almal.

As daar enige karakter in die ANC en die DA oor is, sal die EFF weldra tussen die twee partye deurval.

• NETWERK24