21 August 2018 | Tegnologie

Motorola boots iPhone blatant na

Die tonge klap behoorlik op sosiale media nadat ­Motorola sy jongste slimfoon, die P30, bekend gestel het. Op die oog af lyk die toestel heel skaflik met 'n goed afgeronde ontwerp en groot skerm.

Die enigste probleem? Dit lyk op 'n haar na soos Apple se iPhone X wat in Oktober 2017 bekend gestel is.

Buiten vir die teenwoordigheid van die Motorola-logo onderaan die foon is daar byna niks wat dit onderskei van die iPhone X nie.

Nes die iPhone het die P30 ook 'n inham aan die bokant van die skerm waarin die voorste kamera en luidspreker versteek is.

Op foto's van die P30 wat Motorola op sy webtuiste geplaas het, lyk selfs die agtergrond van die twee fone se skerms eenders.

Die agterkant van die foon lyk dieselfde as die iPhone s'n. Ja, daar is ook twee kameralense, die een bo die ander, met 'n flitslig in die middel. Die enigste verskil is Apple se logo wat met die M van Motorola vervang is, wat ook die foon se vingerafdrukskandeerder huisves.

The Verge berig die P30 beskik oor 6 gigagrepe se geheue en is toegerus met 'n kragtige Snapdragon 636-verwerker, wat wel reeds in 2017 uitgereik is.

Anders as die iPhone bied die P30 'n opening vir 'n geheue­kaart om die foon se ingeboude stoor­spasie van 128 gigagrepe te ­vergroot.

Die P30 het ook nie dieselfde ­gesigherkenningstegnologie as die iPhone X nie.

Ontleders meen selfoonvervaardigers moet deesdae alles in die stryd werp om hul toestelle van hul mededingers s'n te onder­skei.

Die P30 is egter nie die eerste foon wat leen by die ontwerp van die iPhone nie. Die Chinese vervaardiger Xiaomi se Mi 8 het ook 'n soortgelyke ontwerp.

Motorola se troefkaart is waar­P30 na verwagting meer as die helfte minder gaan kos as 'n iPhone X.

Lenovo, Motorola se moedermaatskappy, het vandeesweek vir die eerste keer in 'n jaar weer positiewe kwartaalsyfers uitgereik ná groot verliese wat in 2017 gely is. Volgens Bloomberg is dit deels te danke aan beter verkope, maar ook weens kostebesnoeiing in sy mobiele eenheid.

Motorola beplan om die P30 voor die einde van die maand in China bekend te stel, waarna dit na verwagting in ander lande uitgereik gaan word.

Die verwagte verkoopprys is US$350, teenoor die iPhone X se US$999. – Netwerk24