18 April 2019 | Onderwys

Moedertaal kry voorkeur

Noodsaaklik vir syfer-, lettervaardigheid

Henriette Lamprecht



Die huidige hersiene weergawe van die Taalbeleid vir Skole is daarop gemik om die beleid en sy doelwitte duidelik te maak sodat niemand voel hul moedertaal word bedreig of beperk nie.

Die hersiene beleid is deur die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, in die parlement ter tafel gelê.

Die ministerie het 'n taalbeleid vir skole ontwikkel wat die infaseer van Engels as medium van onderrig vooropstel.

Die Taalbeleid vir Skole is in November 1991 gepubliseer en het ten doel gehad om Engels as die amptelike medium van onderrig te vestig en ook die gelyke ontwikkeling van Namibiese tale te bevorder.

Die aanvanklike dokument het egter nie uitgestippel hoe nasionale tale oftewel moedertale in skole gebruik moet word nie. Verskille is ook van streek tot streek gevind in die implementering van die taalbeleid weens waninterpretasie en die manipulasie van die beleid omdat onderrig in Engels as medium van instruksie eerder as moedertaal in junior primêre fases verkies is. Voorheen benadeelde leerlinge is verder benadeel omdat nie-Engelssprekende onderwysers onderrig in Engels moes gee.

Baie leerlinge het nie die geleentheid gehad om in hul moedertaal te leer nie, terwyl baie skole ook nie inheemse Namibiese tale as vakke tot op graad 12-vlak aangebied het nie.

Volgens die hersiene dokument is tweetalige onderrig belangrik omdat daar 16 tale is wat hiervoor gebruik kan word. Dit maan onderrig in die moedertaal, en veral in die eerste ses skooljare, is noodsaaklik om konsepte te vorm, sowel as vir syfer- en lettervaardigheid.

“'n Taal kan net oorleef as moedertaalsprekers daarin kommunikeer. Om funksioneel geletterd te wees, moet 'n mens nie net die taal praat nie, maar ook skryf en goed lees om te kommunikeer en ander te verstaan,” lui die verslag.

In die oorspronklike sowel as die hersiene beleid word die gebruik van moedertaal as 'n medium van instruksie in die vormende skooljare vanaf preprimêr tot graad 3 voorgeskryf. Ook dat dit as 'n skoolvak vir verdere onderrig aangebied word.

“Die moedertaal speel ongetwyfeld 'n positiewe en noodsaaklike rol in die verkryging van enige tweede taal. Omdat Engels die amptelike taal in Namibië is, sal dit gebruik word as 'n medium van instruksie en evaluering vanaf graad 4 deur die hele onderwysstelsel in staatskole.”

Engels as medium van instruksie sal slegs vanaf graad 1 by staatskole gebruik word met die skriftelike toestemming van die minister van onderwys, kuns en kultuur. Versoeke om Engels as 'n medium van instruksie vanaf preprimêr te gebruik, moet aan die minister voorgelê word en nadat onderwysers se bevoegdheid daarin vasgestel is. Betrokke onderwysers moet vaardig wees in Engels-onderrig, terwyl die sillabus vir Engels as eerste taal gebruik moet word.

Graad 4 is die oorgangsjaar waarin die verandering na Engels as medium van onderrig plaasvind en moedertaal 'n ondersteunende rol inneem. Vanaf graad 4 tot 12 is die medium van onderrig Engels en word moedertale as vakke in die betrokke grade aangebied. Word Engels nie as moedertaal aangebied nie, moet dit as 'n vak en byvoorbeeld 'n tweede taal aangebied word.

Volgens die taalbeleid moet alle leerlinge ten minste twee tale as vakke vanaf graad 1 tot 12 hê waarvan Engels een moet wees. Die enigste uitsondering is vir leerlinge wat toegelaat word vir 'n eentaalleerplan waar hy of sy moedertaal nie op eerstetaalvlak aangebied word nie. Alle evaluering moet gedoen word in die taal waarin die spesifieke vak aangebied word.

Met verwysing na private skole sê die hersiene beleid dié skole kan 'n ander taal as Engels as medium van onderrig deur die primêre siklus van graad 1 tot 7 gebruik word, met dien verstande dat Engels en een ander Namibiese taal as vakke aangebied word.

Die medium van onderrig vir dowe leerlinge is Namibiese gebaretaal, terwyl slegs Geskrewe Engels verpligtend vanaf graad 1 tot 12 is.

Die taalbeleid word elke vyf jaar hersien.