14 August 2019 | Howe

Möller-saak: Regter roskam beskuldigde

Verdagte sê probleem lê nie by hom

Dinnah Usiku, hoërhofregter: “Getuies is na die hof ontbied en ‘n klomp middele is vermors deur jou besluit om ter elfder ure nie met jou regsverteenwoordiger voort te gaan nie.”

Elvira Hattingh

Die verhoor waarin vyf mans op onder meer klagte van moord en poging tot moord op Walvisbaai se Möller-gesin tereg staan, is tot eerskomende Dinsdag uitgestel.

Dít nadat een van die beskuldigdes se regsverteenwoordiger ’n tweede keer onttrek het.

Mnr. Panduleni Gotlieb (31), een van die beskuldigdes, se tweede regsverteenwoordiger, mnr. Titus Mbaeva, het onttrek omdat hy en sy kliënt glo nie ooreenstem oor hoe om met die saak voort te gaan nie.

Boonop wil Gotlieb glo ’n versoek om verdere inligting oor die klagte teen hom vir ’n tweede keer aan die staat rig.

Dit volg nadat sy eerste regsverteenwoordiger, mnr. Tuna Nhinda, ook onttrek het.

Regter Dinnah Usiku het Gotlieb ernstig gewaarsku sy sal nie toelaat dat hy die hof “frustreer” deur voortdurend van regsverteenwoordiger te verander nie.



‘GEREGTIGHEID ONTKEN’

“Ek glo jou medebe­skuldigdes wil met die verhoor voortgaan en die saak is vir lank reeds uitgestel. “Geregtigheid wat uitgestel word, is soos om geregtigheid te ontken.

“Boonop is jy nie die enigste party in die saak nie, getuies is na die hof ontbied en ’n klomp middele is vermors deur jou besluit om ter elfder ure nie met jou regsverteenwoordiger voort te gaan nie.

“Neem hierdie as ’n baie ernstige waarskuwing van my af,” het sy gesê.

Gotlieb het geantwoord die probleem lê nie by hom nie.

“Ek wil ’n verteenwoordiger hê wat met my saamstem en nie een wat my nie ’n regverdige verhoor sal gee nie,” het hy gesê.

Regter Usiku het gesê ongeag die omstandighede verwag sy van Gotlieb om sy sake in orde te kry.

Die hof sal Dinsdag om 09:00 hoor of Gotlieb daarin kon slaag om regsverteenwoordiging te kry.


VERHOOR SOU BEGIN

Die verhoor van die saak waarin die Möller-gesin op 16 Junie 2016 in hul huis op Walvisbaai oorval, aangerand en beroof is, sou vandag in die Windhoek Sentrale Gevangenis se hoërhof begin het.

Mnr. Hans-Jörg Möller is in die voorval geskiet en het later aan sy wonde beswyk.

Volgens die klagstaat het mnre. David Tashiya (30), David Shekundja, Elly Hinaivali, Malakia Shiweda en Gotlieb by die Möllers se huis ingebreek en geld en ander waardevolle items van Möller se vrou, Carol-Ann Sowden-Möller, geëis.

Hulle het haar glo met ’n pistool, messe, ’n bandhefboom en ’n skroewedraaier gedreig. Toe Hans-Jörg tot haar redding wou kom, is ’n skoot afgevuur wat hom in die maag getref het.

Die beskuldigdes het Carol-Ann aangerand en vasgebind voor hulle die huis geplunder het.

Hulle het met kontant en gesteelde items ter waarde van sowat N$174 000 op die vlug geslaan. Hans-Jörg het op 18 Junie in die hospitaal gesterf weens die beserings wat hy opgedoen het.

Die beskuldigdes is van onder meer moord, poging tot moord en same­swering tot huisbraak met die doel om te roof, of roof met verswarende omstandighede aangekla.