06 September 2018 | Internasionaal

Minstens 10 dood ná tifoon Japan tref

Tifoon Jebi saai verwoesting

Minstens tien mense is dood, tientalle beseer en duisende gestrand gelaat nadat 'n kragtige tifoon Japan Dinsdag getref het.

'n Internasionale lughawe is ook gesluit omdat dit oorstroom het.

Dorpe en stede in Gifu, Aichi, Kioto, Osaka, Hyogo, Nara, Wakayama by Honshu, Tokushima, Kagawa en Kochi by die Shikoku-eiland word deur die tifoon geraak.

Die tifoon Jebi het meer as 'n miljoen huise sonder elektrisiteit gelaat en duisende mense wat hul huise moes ontruim, word nou in skuilings gehuisves. Dit is die sterkste tifoon wat die land die afgelope 25 jaar getref het.

Sowat 3 000 mense is gisteroggend met bote en busse uit die ­oorstroomde Kansai Internasionale Lughawe in die weste van die land na die nabygeleë ­Kobe-lughawe gebring.

Volgens 'n kabinetswoordvoerder is 300 mense beseer.

By die Kioto-stasie is talle beseer toe 'n glasdak meegegee het.

Beeldmateriaal van voertuie wat omwaai, 'n vragmotor wat net-net nie van 'n brug afgewaai word nie en 'n olieboor wat 'n brug tref, is wyd gepubliseer.

Die tifoon Jebi volg slegs 'n week nadat die tifoon Cimaron dieselfde gebied getref het. – Netwerk24/Reuters