12 September 2018 | Ministeries

Ministerie in sop ná geleentheid by restaurant sneuwel

Duisende vir huur van tafels, stoele

Henriette Lamprecht - 'n Gewilde restaurant in Windhoek het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste hof toe gesleep nadat 'n toekenningsgeleentheid vir verpleegsters nooit plaasgevind het nie.

Taste of Africa Coffee & Restaurant sou in Mei die gasheer wees vir die Namibian Nurses Excellence Awards.

Volgens hofstukke het die restaurant se eienaar, me. Teberh Woldu Gebreamlak, op 24 April vanjaar 'n gedeeltelik geskrewe en gedeeltelik mondelinge ooreenkoms met die ministerie aangegaan om as gasheer vir dié geleentheid op te tree. Die ministerie is deur mnr. Sebastian Kamungu verteenwoordig. Die ooreenkoms was dat die restaurant op 11 Mei die funksie vir 500 gaste teen N$285 per persoon sou aanbied. Die spyskaart was 'n braai-buffet.

Die ministerie sou N$140 000 vir dienste gelewer aan die restaurant betaal. Voorts het die ministerie onderneem om 'n 100%-deposito te betaal wat, sou die geleentheid gekanselleer word, nie oordraagbaar is nie.

Volgens die hofstukke het die restaurant al hul verpligtinge soos vervat in die kontrak en ter voorbereiding van die geleentheid nagekom. Geld is bestee aan die huur van tafels, stoele, eetgerei, sowel as sjefs en assistent-sjefs.

Kamangu het, ten spyte van die ministerie se kontraktuele verpligtinge, nie vir vergaderings opgedaag om die geleentheid te beplan nie.

Daarmee saam het die ministerie “misluk en/of geweier” om die deposito waarop ooreengekom is, en ondanks verskeie versoeke, te betaal.

Uiteindelik kon die geleentheid nie, soos ooreengekom deur beide partye en weens die verweerders se “onregmatige en ongegronde gebrek aan prestasie en kontrakbreuk”, voortgaan nie.

Volgens Gebreamlak het die restaurant gevolglik finansiële verliese in die vorm van “algemene en spesiale skade” gely, wat N$62 885 beloop. Dit sluit N$33 885 in wat as 'n deposito vir die huur van bykomende tafels, stoele en eetgerei betaal is, sowel as N$14 000 om die dienste van bykomende personeel te bekom.

Ook het die restaurant N$15 000 in die vorm van inkomste verloor as gevolg van die kansellering van gereelde funksies wat elke Vrydag deur die Franko-Namibiese Kultuursentrum aangebied word.

Die saak is tot 1 Oktober vir mediasie uitgestel.