11 September 2018 | Ministeries

Minister sê gou oor Bybelstudie

'Wanopvatting bestaan'

“Ons kan misdadige bedrywighede laat afneem deur kinders te leer van die Woord van God en dit in skole toe te laat sodat hulle nie in korrektiewe instellings beland nie.” - past. Zelda van der Colff, president, ACM

Denver Kisting – Namibië is kragtens sy Grondwet ’n sekulêre staat.

Daarom kan ’n leerplan oor geloofsonderrig nie net op die Christendom fokus nie.

Só het me. Sanet Steenkamp, die permanente sekretaris (PS) van onderwys, kuns en kultuur, gister aan Republikein gesê.

Boonop, sê sy, dit is nie waar dat daar géén Bybelonderrig by Namibiese staatskole plaasvind nie.

Volgens haar is dít ’n wanopvatting.

Soos sake tans staan, neem alle leerlinge – tot in graad 12 – geloofs- en morele onderrig.

Dié vlak sluit ander gelowe, soos Islam in, hoewel die fokus op die Christendom is, sê die PS.

Steenkamp sê die minister, me. Katrina Hanse-Himarwa, sal na verwagting binnekort ’n aankondiging in dié verband maak om alle onduidelikhede uit die weg te ruim.

Dié opmerkings volg op ’n beroep deur die Vereniging van Kerke en Gemeentes in Namibië (ACM) om Bybelstudie in skole te weer in te stel.

Past. Zelda van der Colff, president van dié liggaam, sê hulle glo Bybelstudie sal help om morele verval in die samelewing teen te werk.

Aangesien meer as 90% van Namibiërs met die Christelike geloof identifiseer, is dit niks anders as regverdig dat die regering kinders op skool touwys maak oor die Bybel nie, sê Van der Colff.

Sy sê voorts: “Ons respekteer die Grondwet, wat ons die reg gee om ons Christelike geloof uit te leef soos voorgeskryf in artikel 21(1) (c), en daarom beroep ons ons op die regering om uiting te gee aan ons regte om Bybelstudie terug te bring na ons skolestelsel.”

Dié bepaling in die Grondwet lui: “(Alle mense sal die reg hê tot) die vryheid om enige geloof uit te oefen en om sodanige praktyk te manifesteer.”

Van der Colff sê die ACM erken ouers se plig om hul kinders van die Bybel en moraliteit te leer, maar die skool “is eweneens ’n belangrike platform om Bybelse onderrig oor te dra, omdat dit doeltreffend sal wees om sommige van die morele probleme aan te spreek”.

Volgens haar sal die Skrif help om kinders eendag uit tronke te hou.

Sy het te velde getrek daarteen dat daar geen Bybels by skole is nie “om kinders te verhoed om in korrektiewe instellings te beland. Ons kan misdadige bedrywighede laat afneem deur kinders te leer van die Woord van God en dit in skole toe te laat sodat hulle nie in korrektiewe instellings beland nie.”

Van der Colff het ook uitgevaar teen sommige geestelike leiers wat ’n bespotting van die kerk maak. Hulle moet tot bekering kom, het sy gemaan.

Haar opmerkings kom in die lig van die moord op Avihe Cheryl Ujaha (9), wie se erg verminkte lyk twee weke gelede in ’n rivierloop ontdek is.

Die gr.3-meisietjie is twee dae vantevore as vermis aangemeld.

Die ACM bestaan reeds twee jaar en dien as ’n sambreelliggaam wat die Christelike gemeenskap verteenwoordig, sê Van der Colff.

Sy was een van die honderde roubeklaers by die begrafnis die afgelope naweek.