29 August 2018 | Ministeries

Miljoene vir Waterberg-buffels

Teen N$25 000 per kop verkoop

Francoise Steynberg - Namibië kry sowat N$5 miljoen vir 200 buffels van die Waterbergplato-park wat in Zambië in die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsbied (Kaza) hervestig word.

Die Peace Parks-stigting (PPF) het verlede Donderdag die eerste 90 van 200 buffels aan gemeenskappe van Sisheke en Kazungula van die Simalaha-gemeenskapsbewaringsgebied in Zambië oorhandig. Die oorblywende 110 buffels sal volgende maand daar hervestig word.

Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, het gister aan Republikein bevestig die buffels is teen N$25 000 per kop aan PPF verkoop. Die prys sluit volgens Muyunda die vang- en hervestigingskoste uit.

"Die buffels is aangekoop van die Waterbergplato-park wat sy drakrag vir die spesie oorskry het," lui 'n mediaverklaring van PPF.

"In Julie is 120 buffels gevang wat vir 'n maand in kwarantyngeriewe in Namibië gebly het waar hulle vir enige tekens van bek-en-klou-seer getoets en gemonitor is."

Volgens PPF is 90 van die gesertifiseerde siektevrye buffels verlede week in 'n 2 500 hektaar omheinde gedeelte van Simalaha se wildpark vrygelaat met 30 buffels wat vandeesweek daarheen verskuif sal word. 'n Bykomende 80 buffels sal volgens PPF in September gevang en na Simalaha verskuif word.

Die Simalaha-gemeenskapsbewaringsgebied bestaan uit 180 000 hektaar van kommunale grond en is geleë in ses sleutelwildgebiede in Kaza, naamlik die Chobe-Zambezi-gebied wat van die Chobe Nasionale Park in Botswana tot die Kafue Nasionale Park in Zambië strek.

Benewens die buffels is daar agt verskillende wildspesies in die wildpark van 24 000 hektaar in Simalaha hervestig wat voorheen daar voorgekom het. Daar is nou meer as 1 600 wild in die wildpark wat in 2013 gevestig is.

"Om siektevrye buffels in Simalaha as deel van Kaza te vestig is noodsaaklik, want dié lid van die Groot Vyf sal toerisme bevorder."

Kaza is die grootste oorgrensbewaringsgebied in die wêreld wat 37 beskermde gebiede van Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe verbind. Die doel is om groot ekostelsels oor grense heen te bewaar en korridors te vestig wat die vrye beweging van antieke migrasieroetes van wild sal toelaat.

"Ons visie is om Kaza as 'n wêreldklas oorgrensbewaringsgebied en toeristebestemming te vestig. Hierbenewens is die sosioëkonomiese ontwikkeling van gemeenskappe wat saam met die wild moet leef, broodnodig," het dr. Nyambe Nyambe, uitvoerende direkteur van die Kaza-sekretariaat, gesê

Die aankoop van die buffels is moontlik gemaak deur die Peace Parks-stigting met die ondersteuning van skenkers. Die uitvoerende hoof van die PPF, mnr. Werner Myburgh, het ook die ministerie van die omgewing en toerisme as vennoot bedank.

Die ministerie het 'n jaar gelede 'n tenderproses begin om 600 van die 1 000 buffels in die Waterbergplato-park te verkoop. Die redes wat toe deur die ministerie verskaf is, is dat die drakrag van die Waterbergplato-park net genoeg vir 400 buffels is en die buffels soms uit die park ontsnap na omliggende plase in die omgewing van Otjiwarongo.