02 July 2018 | Maatskaplik

Meer ondersteuning vir ma’s nodig

Tanja Bause – Die Tov-liefdadigheidsorganisasie vir MIV/vigswesies en weerlose kinders op Tsumeb sorg tans vir ’n baba wie se ma hom nie wou hê nie.

Volgens eerw. Edward Amadhila van Tov is daar geen ondersteuningsnetwerk vir moeders wat nie na hul babas kan omsien nie.

“Die ma van klein Gabriel het hospitaal toe gegaan en gesê sy kan nie vir hom sorg nie. Sy is eenvoudig huis toe gestuur. Daar het sy probeer om hom te versmoor. Gelukkig het ’n ander vrou gesien wat gebeur en ons gebel. Dit het gekom nadat sy ’n berig in Republikein gelees het waarin ek gesê het ‘bring hulle na ons en ons sal die baba versorg’,” het hy gesê.

Ná die oproep het Amadhila vir Gabriel na die Tov-sentrum geneem waar hy nou versorg word. “Gabriel het nie ’n geboortesertifikaat nie, wat aanneming moeilik maak,” het hy gesê.

Hy het baie oproepe van oor die land heen oor die koerantberig ontvang van vroue wat nie na hul babas kan omsien nie. “Ons het byvoorbeeld oproepe van vroue in Keetmanshoop en Gobabis gekry. Albei word nou finanseel deur Tov ondersteun sodat hulle drie maande tyd het om op hulle voete te kom. As hulle dan nog steeds nie vir die baba kan sorg nie, sal ons die kinders Tov toe bring en versorg.”

Volgens Amadhila is daar ongelukkig ook baie skelm mense wat gebel het om kamma hulp te soek. “Ons het selfs ’n oproep van ’n man in die tronk gekry wat skynbaar nie vir sy baba kon sorg nie. Gelukkig doen ons deeglike navorsing om te bevestig of daar wel ’n baba is of binnekort gebore gaan word. Dis jammer dat daar mense is wat kanse vat,” het hy gesê.

Hy betreur die feit dat daar nie meer ondersteuningsnetwerke in Namibië bestaan nie. “Ek kry baie oproepe van vroue wat net wil bid of praat. Hulle is bang en soek net iemand wat luister.”

Hy voeg by dis nie net dié wat hulp se familielede wat nie help nie, “daar is ook geen ondersteuning van die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn nie. Ek het dit self getoets en gebel om hulp gevra. Nadat ek keer op keer na iemand anders verwys is, het ek opgegee. ’n Vrou wat dalk nie so geletterd of goed is in Engels nie, staan nie ’n kans nie.”

Volgens Amadhila is die ma van die baba in Keetmanshoop besig om haar lewe in orde te kry sodat sy self vir haar kind kan sorg.

“Dit is wat ons wil hê. Ons wil nie kinders wegneem nie. Ons ondersteun graag vroue totdat hulle op die voete is en self vir hulle kinders kan sorg.”