04 September 2018 | Mense

Medeskrywer van Grondwet sterf

Die argitek en medeskrywer van die voorlopige dokument wat uiteindelik die Namibiese Grondwet sou word, is Vrydagaand in Suid-Afrika oorlede. Prof. Marinus Wiechers, wat wyd as een van Suid-Afrika se voorste grondwetkenners beskou is, is in die ouderdom van 81 jaar dood.

Wiechers, oudrektor van Unisa, was betrokke by die opstel van die tussentydse Namibiese Grondwet en alombekend vir sy skerp ontleding en uitleg van die huidige Grondwet.

As grondwetkenner was Wiechers in 1993 deel van die grondwetlike tegniese komitee gedurende die veelparty-onderhandelings in Suid-Afrika.

Dié komitee het onder meer die bepalings oor die voorgenome konstitusionele hof, die Handves van Fundamentele Regte en die 34 grondwetlike beginsels geskryf.

Die oorgangsgrondwet het gehelp om Suid-Afrika as demokrasie te vestig en was die hoeksteen vir die finale Grondwet.

Prof. Shadrack Gutto, ’n voormalige Unisa-kollega en emeritus-professor, beskryf Wiechers as ’n “diep en wyse” mens.

“Hy het nie net mense geleer en onderrig nie, maar ook talle publikasies die lig laat sien en openbare rigting oor belangrike grondwetlike aangeleenthede gegee.” (Eie berig en Netwerk24)