30 August 2018 | Landbou

Meatco-steaks vir kuierkroeë in Brittanje

Sluit ooreenkoms met Greene King

Topgehalte vleis uit Namibië gaan eersdaags in die kuierkroeë, hotelle en restaurante van die 220 jaar oue Greene King in die Verenigde Koninkryk (VK) bedien word.

Dié voorste kuierkroeg- en brouerymaatskappy, wat in 1799 gestig is, besit sowat 3 000 afsetpunte in Brittanje en Ierland. Dit is een van die bekendste name in die pub-kultuur wat so ken­merkend aan hierdie lande is.

Die Greene King-handelsmerke sluit name soos Hungry Horse, Chef and Brewer, Loch Fyne (seekos­restaurante) en Old English Inns in.

Me. Rosa Thobias, bestuurder van korporatiewe sake by Meatco, sê in 'n verklaring Greene King het 'n oudit van die voedselveiligheidstandaarde (IFS) by Meatco uitgevoer en die Namibiese vleisverwerker as verskaffer van goeie gehalte vleis goedgekeur.

Soortgelyke oudits sal voortaan elke twee jaar gedoen word om seker te maak Meatco handhaaf deurentyd dieselfde hoë standaarde, sê sy.

Volgens haar het hierdie ooreenkoms die potensiaal om die verkope van Meatco se Natures Reserve-handelsmerk in die uitvoermark te laat groei.

Die Britse pond verhandel tans teen sowat N$18,50, wat beteken die wisselkoers is uiters gunstig vir uitvoere.