11 January 2018 | Visserye

Massiewe haai blaas aftog teen jong seun

Des Erasmus - 'n Tweegeveg van langer as 'n uur by Myl 72 het twee wenners opgelewer. Amper uit soos die spreekwoordelike kerse het 'n 13-jarige seun, Herman Krauze van Hentiesbaai, en 'n bronshaai van 127,5 kg langs mekaar op die strand gelê. Krauze was 'n wenner met sy vangs van 'n leeftyd. Die grote haai was net daarna terug in die vryheid van die water wat die magtige oseaan hom bied.

Die verhaal van die seun en die see het Maandagmiddag noord van Hentiesbaai ontvou toe die jeugdige Krauze, 'n lid van Namibië se junior hengelspan in 'n toetsreeks teen Suid-Afrika, saam met sy pa, Leon, selwers die ­kampioen in die reeks teen die buurland se Proteas, 'n bietjie gaan ingooi het.

Vir albei was dit die eerste hengeluitstappie ná 'n volgepakte vakansieseisoen op Hentiesbaai. In die spitsseisoen was daar vir die jeugdige Herman geen wegbreekkans nie waar hy in die vallei tussen die twee groot duine vir weke met die besoekerstroom besig was.

Die kop van 'n bonito, 'n minderbekende vissoort in Namibië, gemeng met 'n versnit van makriel, was die aas wat die jeugdige Herman gebruik het toe pa en seun met die magdom haaie van Myl 72 noord van Hentiesbaai wou gaan speel.

Herman trek die skaal op 45 kg, byna 'n derde van die gewig van die haai wat hy aan wal gebring het. Hy is lankal bedrewe langs die see, maar weens sy jonkheid haal hy maar 60 tot 70 m met die ingooi­slag. Die breeksterkte van sy vleglyn was 50 pond (sowat 22 kg), 'n maat waarmee hengelaars nog meet uit die tydperk voor die koms van die metrieke stelsel.

Dit was op daardie 60 tot 70 m wat die groot haai sy aas gegryp het terwyl sy pa met drie kleiner visse gespeel het. Die haai het die volle 300 m vleglyn van die vanglyn afgeloop voordat die haai nog sowat 'n honderd meter van sy tweede of onderlyn ook saam met hom die dieptes ingeswem het. Al wat die jonge Herman kon doen, was om sy vis te speel en 'n bietjie terug te beur.

In die proses het hy saam met die haai op en af langs die strand beweeg, soms met sy rug see se kant toe teruggeveg om dan weer vinnig in te katrol. 'n Volle uur en 34 minute het dit so gegaan totdat die stryd volstry was met die haai op vreemde, maar harde aarde.

Pa Leon sê Herman het in 'n stadium gekla: “My rug gaan dit nie hou nie.” In sulke gevalle sit medehengelaars nie hand by nie, want wanneer aan so 'n stok, hengelaar of ander gerei geraak word, is aansprake op 'n sonderlinge vangs daarmee heen.

Aan die einde van die hengeldag het Herman net een vraag aan sy pa gestel: “Hoe groot was pa se drie vissies?”