11 September 2018 | Howe

Mariental-monster eersdaags gevonnis

Slagoffers leef steeds in angs

Elvira Hattingh



'n Moordenaar en verkragter wat vir bykans vyf jaar lank nog op vrye voet was ná sy eerste oortreding, het uiteindelik skuld erken en sal voorts 'n vonnis opgelê word.

Die 34-jarige Gerald Henly Matlata het verlede Donderdag aan hoërhofregter Christi Liebenberg erken dat hy by drie huise van vroue op Mariental ingebreek het, twee van hulle verkrag en beroof het, en sy laaste slagoffer vermoor het.

Intussen het twee van die klaagsters getuig hulle leef steeds in angs.

Nadat Matlata gepleit het, het regter Liebenberg hom skuldig bevind op een klag van moord, twee klagte van huisbraak met die opset om te verkrag, verkragting, twee klagte van poging tot moord, een van diefstal, een van roof met verswarende omstandighede en een van huisbraak met die opset om te roof, asook roof met verswarende omstandighede.

Staatsadvokaat Marthino Olivier het die hof intussen versoek dat Matlata “vir die res van sy lewe” tronk toe gestuur word omdat hy geen tekens van berou getoon het nie. Olivier het bygevoeg dat sy aanvalle skynbaar goed beplan was omdat al die vroue, wat saam met ander mense in hul huis woon, alleen tuis was toe hy toegeslaan het.

Daarteenoor beweer Matlata se regsverteenwoordiger, Gert Appollus, dat die misdade nie beplan was nie.



AANVALLE

In die eerste geval het Matlata in Junie 2012 in die vroë oggendure by 'n vrou se woonstel ingebreek nadat hy oor die muur gespring het en gesien het die deur is toe, maar nie gesluit nie. Hy het haar met 'n wynbottel teen die kop geslaan, haar gewurg en verkrag.

“Sy het my gesmeek om eerder 'n kondoom te gebruik, maar daar was nie een beskikbaar op daardie oomblik nie.

“Sy het my haar bankkaart, haar bankrekeningnommer en PIN aangebied sodat ek vir my geld kon gaan trek en haar uitlos, maar ek was nie daarin geinteresseerd nie.

“Ek het vir haar gesê ek stel net belang om seks met haar te hê, sodat ek kan voel hoe dit voel,” het hy getuig.

Hy het voorts erken hy het in Februa­rie 2013 vir Elizabeth Maria van der Merwe aangeval met die doel om haar te vermoor.

Hy sê hy het met die gang in haar huis afgeloop wat na haar kamer lei, “maar sy het skielik uit 'n ander kamer verskyn en bang geraak en op my gegil toe sy my sien. Sy het gevra wat doen ek in haar huis en hoe het ek ingekom.

“Ek het vir haar gesê sy moet haar mond hou, haar aan haar klere gegryp en met haar gestoei, voor ek haar eindelik op die grond kon neergooi en haar mond en neus met my hande toegedruk het.

“Sy het dit egter reggekry om my hande van haar mond af te beweeg en begin gil. Ek het besef sy kon dalk haar bure se aandag getrek het . . . Ek het op die vlug geslaan,” het hy getuig.

Hy het haar handsak geneem, N$100 uitgehaal en die handsak met die res van die inhoud in haar buurman se erf gegooi.



MOORD

In September 2015 het hy Deborah Snyman vermoor nadat hy oor die tuinmuur gespring het.

Hy getuig hy het gesien die kombuissvenster is oop en die huissleutel lê op die tafel. Hy het die sleutels met 'n besem nader getrek, waarna hy haar huis binnegegaan het.

Matlata het haar in haar kamer aangetref, waar hy haar van agter af met sy hemp gewurg het. Hy sê hulle het vir 'n ruk lank gestoei, voordat sy op die grond geval het en hy haar verkrag het. Hy het ook haar handsak gesteel. Hy het erken dat hy gesien het sy haal nog asem voordat hy weg is. Sy het egter aan haar beserings beswyk.

Regter Liebenberg sal die vonnis op 18 September om 10:00 lewer.