11 September 2018 | Plaaslik

Ma behaal driekuns

Tanja Bause



Op 18 Julie is me. Ingenisia Hange met drie seuns verras nadat sy geglo het sy verwag net twee.

“Die sonar het altyd net twee kinders gewys. Selfs die laaste sonar wat geneem is voor ek 'n keisersnee gekry het, het net twee babas gewys. Die dokter het twee kinders uitgehaal, en toe sê hy vir my daar is nog een wat wegkruip,” het sy vertel.

“Ek was baie geskok, want almal het die hele tyd net van twee gepraat.”

Hange self is een van 'n tweeling en haar ma ook.

“Tweelinge is in ons familie en dit het ek verwag.”

James, Joel en Jacob is drie gesonde seuns hoewel hulle eers in Augustus gebore moes word.

Hange, wat op Okahandja woon, bly vir eers by haar familie in Windhoek tot die kinders ouer is.

“Ek kry baie min geslaap met die drie, maar gelukkig bly ek by my suster en sy help my baie met die kinders.”

Hange, wat 'n huiswerker is, het nog vier kinders waarvan twee by hul pa woon.

“Ek sal enige hulp met babaklere, komberse of selfs melk en doeke baie waardeer,” het sy gesê.