07 September 2018 | Politiek

LPM wil politieke party wees

Aansoek moet geëvalueer word

Catherine Sasman – Die Landless People’s Movement (LPM) het gisteroggend ‘n aansoek by die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) ingedien om as ‘n politieke party te registreer.

Die LPM se nasionale koördineerder vir logistiek en geleenthede, mnr. Ivan Skrywer, het die oorhandiging van die aansoek aan die ECN se direkteur, mnr. Theo Muyoro, as ‘n “geskiedkundige dag” vir die beweging se jong leierskap beskryf.

“Ons het lank hiervoor gewag en het deur strawwe prosesse gegaan om by hierdie punt te kom,” het Skrywer gesê.

Muyoro sê die registrasie van ‘n politieke party is nie ’n “eendagproses” nie, en die ondersteunende dokumentasie wat die aansoek vergesel, moet aan die bepalings van die Verkiesingswet van 2014 voldoen.

Die dokumente sal tegnies geëvalueer word, waarna die aansoek aan die kommissie van die verkiesingsliggaam voorgelê sal word.

Muyoro sê die kommissie sal na verwagting binne die volgende twee tot drie weke vergader waartydens die aansoek oorweeg sal word.

“Die kommissie sal ‘n besluit oor die aansoek neem en daarna sal die aansoek vir ‘n nuwe party ‘n openbare proses word,” het Muyoro verduidelik.

Die openbare proses behels dat die aansoek onderwerp word aan die publiek se besware.

“Dit is ‘n normale prosedure en administratiewe proses. Sou ons enige ongerymdhede of teenstrydighede ontdek, sal ons met die LPM kommunikeer,” het Muyoro gesê.

“Ek wil die aansoekers die versekering gee dat hulle in goeie hande is; hul aansoek sal nie verlore gaan nie.”

Hy wou egter nie sê hoe lank die verwerking van die aansoek sal duur nie. Die oomblik wanneer dit gefinaliseer is, sal ‘n kennisgewing volgens Muyoro in die Staatskoerant verskyn.

Een van die vereistes om as ‘n politieke party te registreer, is om ten minste 3 500 handtekeninge van geregistreerde kiesers te hê, met ten minste 500 van die handtekeninge wat uit sewe verskillende politieke streke afkomstig moet wees.

Skrywer het op sy beurt gesê die LPM het die perk van 3 500 handtekeninge by verre oorskry en die beweging het handtekeninge uit agt streke bymekaargemaak.

“Ons is hier om die politieke landskap te verander. Van vandag af gaan dinge verander,” het Skrywer gesê.

Die LPM-leier, die ontslaande Swapo-parlementslid Bernadus Swartbooi, het sedert die laaste gedeelte van verlede jaar gesê die LPM gaan herskep word van ‘n maatskaplike beweging met eise vir voorvaderlike grond as sentrale tema tot ‘n volwaardige politieke party wat aan die komende nasionale en streeksverkiesings in onderskeidelik 2019 en 2020 sal deelneem.

In Junie het Swartbooi gesê die LPM het ‘n sterk en groeiende teenwoordigheid in 11 streke en het toe reeds 3 500 lede in sewe streke gehad.