08 November 2018 | Sport

Lerena veg teen toetsuitslag

Kevin Lerena, Suid-Afrika se huidige IBO-wêreldkampioenbokser in die junior swaargewigklas wat positief getoets het vir 'n verbode middel, sê hy is vasbeslote om sy naam in ere te herstel.

Die negatiewe bevinding, wat deur die Wêreldboksraad (WBC) onthul is, kom uit 'n toets wat op 18 Oktober in Johannesburg deur VADA uitgevoer is. VADA is die Vrywillige Anti-opkikkervereniging - 'n organisasie wat saam met die WBC werk.

“Ek is verstom oor dié skielike ontwikkeling, maar ek sal die saak tot die bitter einde beveg omdat ek nie skuldig is aan die gebruik van middels om prestasie te verbeter nie,” het Lerena in 'n eksklusiewe onderhoud aan Sport24 gesê.

“Ek het vanoggend gehoor van die uitslag en ek en my span beveg reeds die saak. Die WBC is in kontak met my promotor, Rodney Berman. Hulle moes bekend maak dat ek positief getoets het, as standaard prosedure.”

Lerena, wat van 'n skouerbesering herstel het, sê die enigste manier hoe die middel in sy stelsel kon kom, is deur per abuis een van sy vrou se tablette in te neem. Weens sy besering het Lerena 'n aantal tablette gekry en volgens hom deel hy dieselfde tablethouertjie as sy vrou.

“Die middel waarvoor ek positief getoets het, is 'n produk wat my vrou, Gina, neem. In al my pynmedikasie moet ek seker die verkeerde tablet geneem het.

“Dit is 'n spesifieke medikasie wat aan my vrou voorgeskryf is en dit verbeter nie jou genetiese potensiaal of prestasie nie, want dit is nie 'n anaboliese middel nie.”

Lerena (26), wat sedert sy debuut in 2009 'n beroepsrekord van 21-1 opgebou het, sou eers volgende Maart terug in die kryt klim.

“So, om watter rede sal ek prestasieverbeterende opkikkers nodig hê? Ek het te lank en te hard gewerk om my loopbaan só weg te gooi.”  – Sport24