08 March 2018 | Sport

Leeus: Andries wil nie stagneer op heelagter

Christo Buchner



Een van Swys de Bruin se gunste­ling-sêgoed aan sy spelers is “geen tyding is goeie tyding”.

“Daarom is dit eintlik goed as hy nie baie met jou praat nie, want dan weet jy dinge is nog op die regte pad,” sê die Leeus se Springbok-heelagter, Andries Coetzee.

Coetzee het vanjaar al uithalerspel vanuit die laaste vesting gelewer, maar erken dat jy elke nuwe seisoen daardie knoppie moet druk om weer van nuuts af te begin.

“Jy kan nie altyd net op dieselfde trant wil aangaan en net doen wat jy die vorige jaar gedoen het nie. Ek voel elke nuwe seisoen moet as 'n nuwe uitdaging gesien word en jy moet nuwe uitdagings vir jouself stel. Jy kan dit nie bekostig om net van jaar tot jaar te wil aangaan nie, maak nie saak hoe goed dinge die vorige jaar dalk vir jou verloop het nie. Op dié manier sal jy maklik in 'n groef verval,” glo Coetzee.

“Ek voel vanjaar gemaklik op die veld. Die ruggraat van enige agterlyn is jou nege (skrumskakel), tien (losskakel) en 15 (heelagter), veral ook wat die teenaanvalle betref en daarom moet ons deurgaans skerp wees,” sê hy.

Dié nr. 15 was verlede jaar Allister Coetzee se eerste keuse op heelagter in die Springbok-span en sal die nuwe Bok-breier, Rassie Erasmus, vanjaar opnuut van sy deugde wil oortuig.

Wat die aanslag van die Blues Saterdag op Ellispark betref, sê Coetzee die Leeus staal hulle vir 'n fisieke aanslag, “soos dit maar altyd die geval teen Kiwi-­spanne is. Hulle is ook baie goed met teenaanvalle, en ons sal nie kan bekostig om sommer net besit af te staan en hulle hardloopkans te gee nie,” sê hy.

Die flank Cyle Brink is op sy beurt van mening dat jy nooit regtig seker is wat om van die span van Auckland te verwag nie. Dit is die eerste Nieu-Seelandse teenstand waarmee die Leeus hierdie seisoen te doen gaan kry en Brink lê klem op hul onvoorspelbaarheid.

“As 'n bal losspat is hulle altyd gevaarlik en daarom gaan dit nodig wees dat ons hou by ons strukture. Ons wil ook nie te diep delf in wat hulle dalk gaan doen nie, maar eerder konsentreer op die doelwitte wat ons vir onsself stel,” sê hy.

“Die Blues is wel 'n span propvol individuele sterre, wat as dit hul dag is die wêreld vir jou baie moeilik kan maak. Hulle sal ook desperaat wees vir 'n oorwinning nadat hulle hul eerste twee wedstryde verloor het en ons sal nie die fout maak om hulle gering te skat nie,” verseker hy.

– Netwerk24