08 March 2018 | Plaaslik

Leerlinge slaap sag

|Gai-ob Fishing CC het onlangs, as deel van hul maatskaplike verantwoordelikheid, 257 enkelbedmatrasse ter waarde van N$51 000 aan Laerskool Drimiopsis in die Omahekestreek geskenk.

Tydens die geleentheid het mnr. Pijoo Nganate, die goewerneur in die streek, mnr. Festus Ueitele, se raadgewer, hom verteenwoordig en gesê die skenking is gedoen ná die minister van visserye en mariene hulpbronne ’n beroep gedoen het op belanghebbendes om die skool in moeilike ekonomiese tye te ondersteun.

Volgens mnr. Christy ||Naobeb, |Gai-ob se voorsitter, kon hulle nie met gevoude hande staan toe hulle van die omstandighede by die skool se koshuis hoor nie.

“Toe ek daarvan hoor, kon ons dit nie net so los nie. Dit is ons verantwoordelikheid om diè te help wat nie het nie - veral die minderbevoorregte gemeenskappe.”

|Gai-ob Fishing CC is in 2011 gestig met die doel om by te dra tot die maatskaplike ondersteuning van voorheen benadeelde en gemarginaliseerde gemeenskappe. Sedert die onderneming se ontstaan het hy jaarliks skenkings aan verskeie gemeenskappe, skole en tradisionele owerhede gemaak.

Volgens me. Jogbeth Katjirua, die skoolhoof, het die matrasse op die regte tyd gekom en is hulle baie dankbaar daarvoor.