16 May 2019 | Sakenuus

Leë houers word skopfietse

Alet van der Walt – Daardie raserige skopfietsies wat kleuters eindeloos vermaak en menige mens al tot raserny gedryf het, word deesdae uit herwinde houers uit die landboubedryf vervaardig.

’n Projek van dr. Gerhard Verdoorn van die Griffon-gifinligtingsentrum om op ’n veilige manier van die duisende leë chemikalieëhouers op plase ontslae te raak, is so suksesvol dat meer as 60% van die houers deesdae herwin word.

Van skopfietse vir kleuters, swartsakke en plastiekplanke wat vir voetbruggies gebruik kan word, tot rioolpype word uit die kanne vervaardig.

Elriza Theron, woordvoerder van CropLife, sê die houers word drie keer met water op plase uitgespoel en dan na 50 verwerkers landwyd geneem waar die plastiek herwin word.

Theron sê verteenwoordigers van landbouchemiese maatskappye samel die houers op plase in en help so om op ’n omgewingsvriendelike manier daarvan ontslae te raak.

Theron sê nog versamelpunte is landwyd nodig.

CropLife, ’n oorhoofse organisasie waaraan landbouchemiese maatskappye behoort, wil ook nou begin om polipropileensakke te herwin. – Netwerk24