16 May 2019 | Howe

Lasteraar se mond tydelik gesnoer

Tjivikua, vrou wen ronde

Denver Kisting – Die oudvisekanselier van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), dr. Tjama Tjivikua, het die hoërhof oortuig om ’n man wat hom belaster het tydelik in sy spore te stuit.

Dié man, mnr. Tommy Tjaronda, het glo die tafel gedek vir Tjivikua en sy vrou, me. Neavera Tjivikua, om ’n eiendomsontwikkeling aan die buitewyke van die hoofstad te help finansier.

Vir dié beweerde hulp het hy hom beroep op beloftes van finansiële vergoeding in die vorm van kommissie.

Toe hy nie sy sin kry nie, het hy glo wyd en syd begin om allerlei lelike onwaarhede oor die Tjivikuas te verkondig.

Hy het na bewering die Tjivikuas veral in die sosiale media, maar ook elders, belaster.

Die hoërhof in Windhoek het die afgelope week ’n stokkie daarvoor gesteek.

Tjarondo het deurgaans by monde van sy prokureur, mnr. Sisa Namandje, aangevoer wat hy oor Tjivikua en sy gade beweer, is die waarheid.

Hy belaster hulle nie, het hy volgehou.

Dinsdag het die hof gelas Tjaronda moet onmiddellik ophou om lasterlike, ongegronde en onwaar stellings of bewerings op sosialemediaplatforms te publiseer.

Hiernaas het die hof hom beveel om hom nie die egpaar te bemoei met lasterlike beweringe op sy Facebook-, Twitter-, Instagram- en ander sosialemediarekeninge nie.

Dié bevel geld totdat die hof ’n finale beslissing gee in die lastergeding wat die paartjie teen Tjaronda aanhangig gemaak het.

Die hof het die sakeman ook opdrag gegee om enige en alle lasterlike materiaal wat met die Tjivikuas verband hou, van sy sosialemediaplatforms te verwyder.

Die hof sal ná afloop van die hoofgeding ’n uitspraak maak oor regskostes en wie daarvoor moet pa staan, lui Dinsdag se bevel.

In ’n stadium het Tjaronda hulle daagliks in die sosiale media belaster, het dr. Tjivikua in sy betooghoode aangedui.

Dít kom ondanks die feit dat hy wat Tjaronda is, glo geweet het hy raak onwaarhede kwyt, sê dr. Tjivikua.

Sou die hof nie die afgelope week die tussentydse bevel toegestaan het nie, sou hy en sy vrou verdere ernstige skade gely het, sê die akademikus.

AGTERGROND

Tjaronda het hom glo in ’n stadium genader en gesê hy weet van mense wat geld in die ontwikkeling kan inpomp.

Die Windhoekse stadsraad (CoW) het egter sedertdien die tender herroep en eers ná ’n groot gesukkel is dit weer aan Waterberg Investments (Pty) Ltd toegeken.

Dié maatskappy behoort aan die Tjivikua-egpaar en word ook as ’n party gelys in die geding teen Tjaronda.

Volgens die oudrektor het die omstandighede sedert Tjarondo se aanbod verander en is hulle derhalwe geen kommissie aan hom verskuldig nie.

Hy betwis dit.