11 September 2018 | Regering

Kundiges sê oor Chinese skuld

Afrikaregerings moet groter sê hê

Ronelle Rademeyer - Ontleders van die pasafgelope beraad van die Forum oor China-Afrika-samewerking (Focac) het die volgende raad vir regerings op die vasteland: Kies self die projekte en gelas die gebruik van plaaslike materiaal en arbeid.

Dr. Cobus van Staden, ’n senior navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede (SAIIA) en ’n kenner van China-Afrika-betrekkinge, het gister in ’n telefoniese onderhoud uit Johannesburg gesê anders as wat baie mense glo, is China se leningsvoetspoor in Afrika nie so groot nie.

“Ja, Afrikalande se Chinese skuld groei, maar ’n mens moet na ’n volportret van Afrika se skuldverpligtinge kyk. Hoewel ontleders se syfers verskil, wil dit voorkom asof 20 tot 30% van Afrikalande se skuld in China lê. Dit beteken 70 tot 80% van skuld wat aangegaan word, is met die Wêreldbank, die Afrika-ontwikkelingsbank en Westerse private leners.

“Die narratief oor Afrikalandse se bultende Chinese skuldlas is oorwegend een wat deur Westerse joernaliste geskep word in lande wat ’n belang het by China se strategiese invloed op die vasteland,” sê Van Staden.

Hy gee toe die kommer oor Chinese skuld is legitiem en dat lande die skuld wat hulle aangaan, moet kan absorbeer.

Van Staden voeg egter by dat net een Afrikaland se naam op ’n onlangse lys van lande verskyn wat die gevaar loop om hul skuldverpligtinge nie teenoor China na te kom nie, en dit is Djiboeti.

Hy meen wel die burgerlike samelewing moet meer druk op regerings in Afrika plaas om die geld wat hulle by China leen toegewyd aan dié projekte te bestee waarvoor dit bestem is.

Verder meen hy vrese dat China beslag sal lê op infrastruktuur in Afrikalande wat nie hul skuld kan delg nie, is ongegrond. “Dit is nie die Chinese model nie.”

Die Zambiese regering het die naweek berigte op sosiale media ontken waarin aangevoer word China gaan beslag op die Internasionale Lughawe Kenneth Kaunda en ander infrastruktuur lê, aangesien dié buurland nie sy skuld kan delg nie.

Dié regering se woordvoerder, me. Dora Siliya, het volgens die Lusaka Times gesê China het geen voorneme om dit te doen nie.

Me. Hannah Ryder, ’n kenner van ontwikkelingsprogramme in China, sê in ’n artikel wat verlede week in The Diplomat verskyn het die vraag is nie of Chinese lenings goed of sleg is nie, die vraag is wat Afrikaleiers sal doen om dít te eis wat hul mense nodig het.

Ryder, ’n gewese diplomaat en uitvoerende hoof van Development Reimagined in Beijing, sê die bindende voorskrifte in Chinese lenings is ’n probleem en moet verander. Dit behels dat net Chinese maatskappye vir projekte gebruik mag word.

Sy meen Afrikaregerings moet die vryheid hê om seker te maak hulle gee voorkeur aan dié projekte wat die mense van Afrika die meeste gaan baat. Verder moet hulle die Chinese maatskappye ook daartoe verbind om plaaslike boumateriaal en arbeid te gebruik.

Regerings moet die Chinese maatskappye wat kontrakte kry, ook aan deeglike ondersoek onderwerp, aangesien dit soms gebeur dat maatskappye gebruik word wat op die Wêreldbank se swartlys vir korrupsie verskyn, meen Ryder.