04 September 2018 | Omgewing

Koue kom wéér Suide toe

Sesde antisikloon dié winter

Elvira Hattingh - Die suide van die land kan teen Donderdag reënerige en koue weer verwag, met maksimum temperature wat glo nie 15°C sal oorskry nie.

Terselfdertyd sal koeler weer in sentrale dele van die land voorkom, met maksimum temperature wat na verwagting nie meer as 21°C sal bereik nie. Sonnige en warm weer word egter oor die meeste dele van die land verwag, terwyl dit na verwagting báie warm in die Noorde sal wees.

Só voorspel mnr. Odilo Kgobetsi, hoofweervoorspeller by die Namibiese weerkantoor in Windhoek.

Weather.com voorspel Windhoek se minimum temperatuur sal Donderdag en Vrydag digby -2°C draai, terwyl die maksimum op onderskeidelik 19°C en 21°C sal staan. Keetmanshoop sal op dieselfde dae minimum en maksimum temperature van tussen -2°C en 13°C hê.

Grunau se temperature sal op dié twee dae ook tussen -2°C en 11°C wissel.

Daarteenoor sal Rundu Donderdag ‘n minimum en maksimum temperatuur van 16°C en 34°C hê, nadat die kwik op dié dorp teen Woensdag by sowat 36°C kan draai.

‘n Snikhete Donderdag en Vrydag word ook vir Katima Mulilo voorspel, met minimum temperature wat na verwagting op 21°C sal staan, terwyl die kwik tot 36°C sal styg.

SESDE ANTISIKLOON

Dié vlaag koue vir die Suide kom ná die sesde antisikloon dié winter naby die suidwestelike kus van Afrika aangekom het, en sal na verwagting ‘n sterk kouefront van sy posisie oor die Atlantiese Oseaan af oor die vasteland stoot.

Volgens Weather Today (Southern Africa) se weervoorspeller, mnr. Mike Berridge, sal die volle krag van die kouefront teen Donderdag (6 Sept) in veral die sentrale Kaap en die suidelike Drakensberg-gebiede gevoel kan word.

Hiertydens sal maksimum temperature in dié gebied na verwagting nie 4°C oorskry nie. Terselfdertyd kan sterk ryptoestande snags in dié gebiede voorkom.

Volgens die voorspelling sal die koue toestande vir dae lank in die buurland voortduur omdat dit voortdurend deur ‘n invloei van koue lug van die suide af gevoed sal word.

Die lug word oor die vasteland gestoot deur die intense hoëdrukstelsel oor die Atlantiese Oseaan.

Terselfdertyd sal warm en vogtige lug afwaarts van die Indiese hoëdrukstelsel af inbeweeg en oor die sentrale dele van Suider-Afrika eindelik teen die kouefront bots. Dít sal na verwagting tot die vorming van ‘n laedrukstelsel lei en moontlik reënbuie tot gevolg hê.

Soos voorspel het sterk reënbuie, hael en donderweer intussen reeds op plekke soos Port Elizabeth, Oos-Londen en Despatch voorgekom.