06 September 2018 | Howe

Kort nuus uit die howe

Standard Bank

Charles Manale erken bedrog

Die 35-jarige Charles Winston Manale, ‘n voormalige werknemer van Standard Bank Namibia, het Dinsdag erken hy het in 2015 meer as N$4 miljoen by dié bank gesteel.

Hy het voor regter Dinah Usiku in die hoërhof in Windhoek skuld op 147 klagte van bedrog, alternatiewelik diefstal, beken.

Manale het getuig hy het tussen Januarie 2011 en Desember 2015 by 147 geleenthede geld uit rekeninge by dié bank na sy eie rekening en dié van ‘n vriend oorgeplaas.

Hy moet weer op 22 Oktober in die hof vir getuienis ter strafverswaring en -versagting verskyn. – Nampa

RCC

Oudhoof weier om te pleit

Die voormalige uitvoerende hoof van die Padkontrakteursmaatskappy (RCC), mnr. Kelly Nghixulifwa, het Dinsdag geweier om op bedrog- en korrupsieklagte teen hom te pleit.

Dít in die saak wat die B1 City-ontwikkelingsprojek betrek.

Nghixulifwa (58) staan saam met mnr. Hafeni Nghinamwaami (50) en me. Anna Ndoroma (49) voor regter Christie Liebenberg op dié klagte tereg.

Nghixulifwa het beswaar gemaak oor die wyse waarop die klagte teen hom op die klagstaat geformuleer is en geweier om te pleit.

Die verhoor is na 13 September uitgestel sodat die staat op dié besware kan reageer. - Nampa

Tses

Verkragter op 18 September gevonnis

Jesaya Boois (42) van Tses, wat op 30 Julie vanjaar daaraan skuldig bevind is dat hy in September 2014 ‘n swanger vrou van dié nedersetting verkrag en vermoor het, sal later vandeesmaand gevonnis word.

Regter Nate Ndauendapo het bevind Boois het die swanger me. Bonaventura Jahs (28) die nag van 2 tot 3 September 2014 verkrag en vermoor. Hy is ook aan regsverydeling skuldig bevind.

Ndauendapo het Dinsdag, ná voorlegging van versagtende en verswarende omstandighede, gesê hy sal Boois op 18 September vonnis. - Nampa