04 September 2018 | Howe

Korrupsiesaak uitgestel

Otis Finck - Die korrupsiesaak waarby mnr. Hendrik Bok (60) betrokke is, is tot 31 Januarie volgende jaar uitgestel.

Bok sal op twee klagte van korrupsie verskyn en gevra word om te pleit.

Die saakdossier is aan die kantoor van die aanklaer-generaal vir besluitneming oorhandig, wat besluit het om Bok voor die streekhof op Swakopmund te daag. Hy het reeds op 29 Augusutus verskyn, waartydens borgtog van N$8 000 aan hom toegestaan is.

Bok, 'n voormalige putsuperintendent by die Rössing-uraanmyn, word daarvan beskuldig dat hy sy lidmaat­skap van die myn se tenderraad­komitee misbruik het om 'n tender vir stofonderdrukking te beïnvloed in ruil vir N$250 000 en/of opknapwerk aan sy plot op Usakos deur ene mnr. Hendrik Johannes Nel, Mosmart Investments Namibia en/of Reha Maintenance Services se hoofbestuurder.

Dié korrupsie is na bewering tussen 18 Desember 2012 en Desember 2016 gepleeg in ruil daarvoor dat Bok 'n hoër punt aan Mosmart Namibia se aansoek vir dié tender toeken.

Bok word van dieselfde soort korrupsie beskuldig, wat dieselfde maatskappy en 'n tenderproses tussen Januarie 2013 en Desember 2016 betrek.