10 October 2018 | Energie

Kernkragbedryf kap hulpbronplan

‘Vrese lê diep’

Francois Williams – Die kernkragbedryf kap terug oor die regering se jongste geïntegreerde hulpbronplan (IRP) nie vir nuwe kernkragstasies voorsiening maak nie.

Om die sowat 25 000 MW se nuwe kragopwekkingsvermoë te bou waarvoor die nuwe IRP voorsiening maak, sal volgens die Kernbedryfsvereniging van Suid-Afrika (Niasa) sowat R303 miljard kos as die plan se voorkeuropsies van groenkrag en aardgas gebruik word.

Dit bied dan ’n gemiddelde aanlegleeftyd van 20 jaar. Maar volgens Niasa se eie berekenings kan dieselfde hoeveelheid krag sowat R308 miljard kos as dit met kernkrag gelewer sou word, en die aanlegleeftyd is dan 60 jaar. Boonop sal die krag dadelik op aanvraag op die kragnetwerk gelaai kan word.

As dieselfde kraglewering van kernkrag oor 60 jaar eerder deur ’n kombinasie van wind- en sonkrag en aardgaskragstasies gelewer moes word sal dit die regering nader aan R924 miljard kos, sê Knox Msebenzi, besturende direkteur van Niasa.

Prof. Antonie Cilliers, navorsingsgenoot van Wits, het by ’n onlangse gesprek van Niasa oor die IRP gesê dit lyk of retoriek en wollerige wetenskap dele van die nuwe IRP bepaal het.

Volgens Msebenzi het wind- en sonkrag ’n rol om te speel in die energiemengsel as dit reg ontplooi word, maar basiskragvereistes behoort deur betroubare bronne soos kernkrag geanker word.

Hy meen die IRP dek al die aspekte van vraag en aanbod om skoner energie te produseer, maar kyk die uiteindelike koste van elektrisiteit mis.

“Daar is soveel faktore om in ag te neem. Grand Inga (die hidrokrag-projek in die Demokratiese Republiek van die Kongo) is tot 2025 indien nie later vertraag nie, en ander brandstowwe soos aardgas en diesel is aan internasionale pryswisselings gekoppel. Kyk na die petrolprys - daar is absoluut geen waarborg dat enige ander energiebron so stabiel en betroubaar as kernkrag kan wees nie,” sê Msebenzi.

Hy gee toe die vrese oor kernkrag lê diep in Suid-Afrika, maar dit spruit uit die ondeursigtige manier waarop die vorige administrasie dit wou deurdruk sonder behoorlike prosesse. Die persepsies oor korrupsie is so diepgewortel dat dit bykans algemeen aanvaar word dat enige kernkragtransaksie omkoopgeld sal behels. Dié argument mis egter volgens Msebenzi die punt.

Net twee nuwe kernreaktor-eenhede sal byna 23 000 nuwe poste skep, met regstreekse belastinginkomste van R450 miljoen per jaar, sê hy. – Netwerk24