29 June 2018 | Polisie

Kameras vat padgebruikers oor langpad vas

Gebruik van gordels, selfone ook gemonitor

Die Namibiese polisie (Nampol) is tans besig om die gebruik van tegnologies gevorderde spoed­kameras op die B1- en B2- ­nasionale paaie te toets.

Adj.komm. Amalia Gawanas, hoof van Nampol se verkeersbeheerafdeling, het op 21 Junie aangekondig dié kameras sal binnekort in werking gestel word.

Weens hul kenmerkende geel kleur staan die kameras as “geelpaalkameras” bekend.

“Dié kameras is van vandag (verlede Donderdag) af in werking,” het Gawanas gesê.

Gedurende die twee weke lange toetsfase word 12 kameras gebruik om 'n nuwe stelsel te toets wat spoed oor 'n afstand sal meet.

Die gemiddelde spoed van 'n voertuig oor 'n sekere afstand kan bereken word omdat die verskeie kameras met mekaar in verbinding is.

Volgens insp. Rozario Coetzee sal die stelsel boetes vir spoedoortredings aanteken die oomblik wat 'n foto geneem word, en wéér as die voertuig die spoedperk by die volgende kamera oorskry.

Met drie kameras op een stuk pad kan padgebruikers dus tot ses boetes op een reis ontvang.

Veral in die Erongo- en Otjozondjupastreek tussen Okahandja en Swakopmund of Okahandja en Otjiwarongo word hierdie drie­kamerastelsel tans getoets.

NOG NIE VERVOLG

Volgens Coetzee sal oortreders wat op hierdie manier gevang word, egter nog nie daarvoor vervolg word nie.

Vervolging sal van toepassing wees sodra die toepaslike regulasies in die Staatskoerant gepubliseer is en alle wetlike kwessies opgeklaar is.

Die Namibiese Instituut vir Standaarde (NSI) moet die nuwe stelsel ook nog goedkeur.

Ander funksies waarmee die nuwe kameras spog, wat geen twyfel met betrekking tot aanspreeklikheid laat nie, sluit in 'n inzoem-funksie wat selfs sal kan vasstel of bestuurders hul selfone gebruik terwyl hulle bestuur, en of padgebruikers veiligheidsgordels dra.

Volgens Coetzee sal die stelsel verder uitgebrei word.

Hy sê die toetsproses is goed op dreef.

Die polisie is reeds in besit van foto's wat die kameras geneem het en neem dit tans onder oë, sê hy.

Coetzee wil lesers se aandag ook vestig op onlangse kennisgewings van die NSI wat 'n beroep op die publiek doen om insette oor die nuwe stelsel te lewer.

Dié geleentheid verstryk op 15 Julie, waarna dit bestudeer sal word en veranderinge wat meriete het, aangebring sal word.

Die polisie verwag dat die betrokke regulasies teen die einde van Julie in die Staatskoerant gepubliseer sal word “en daarna sal ons dié wet afdwing”, het Coetzee gesê.