24 August 2018 | Regering

Kabinet sê nee vir plastiek

HAN: Verbied dit landswyd

Anita Witt, koördineerder, Recycle Namibia Forum: "Dit kom op die gedrag van die verbruiker neer: As jy die sak hergebruik, is dit goed. As jy dit herwin, is dit nóg beter."

Francoise Steynberg - Ons land is met plastieksakke besaai en dít moet verbied word.

Só verwelkom me. Gitta Paetzold, uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), asook die Recycle Namibia Forum en Plastic Packaging, die kabinetsbesluit oor 'n heffing en verbod op plastieksakke.

Die kabinet het gister die ministerie van die omgewing en toerisme se voorstel aan die kabinetskomitee oor handel- en ekonomiese ontwikkeling vir heffings op plastieksakke bekragtig.

Volgens die voorstel sal 100% van dié inkomste uit heffings aan die Omgewingsbelegginsfonds (EIF) gaan om in afvalbestuurpraktyke te herbelê.

'n Verbod op die gebruik van plastieksakke in beskermde gebiede soos nasionale parke, en die invoer en plaaslike produksie van plastieksakke wat skadelike koolsuurkalsiumsout bevat, is ook goedgekeur, het die adjunkminister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Engel Nawatiseb, gesê.

Paetzold het gesê verskeie organisasies soos HAN, Recycle Namibia Forum (RNF), Tosco, Plastic Packaging en Team Namibia is 'n geruime tyd al besig met 'n bewusmakingsprogram om die land skoon te hou.

TOERISMEBEDRYF GERAT

"Ons moet iets doen, want ons land moenie só vuil lyk nie. Hoe dit gedoen gaan word, is ‘n ander saak," het Paetzold gesê.

"Ons het al die toerismebedryf daarvan bewus gemaak om nie plastieksakke en -strooitjies en polistireen te gebruik nie, maar eerder permanente sakke, herwinbare strooitjies en papierbokse."

Paetzold sê restaurante het veral ag hierop geslaan en toeroperateurs doen ook baie moeite om toeriste se afval uit parke te verwyder om weer te herwin.

Sy verwelkom dit dat die heffings na die EIF gaan en meen meer aansporingsgeld moet vir herwinning aangewend word.



HERWINNING

Vir me. Anita Witt, koördineerder van die Recycle Namibia Forum, is die heffing en verbod ook goeie nuus.

"Ons verwelkom die nuwe maatreëls, veral die verbod op plastieksakke wat nie in Namibië herwin kan word nie," sê sy.

Sy sê hoewel die heffing nie altyd, soos in Suid-Afrika, sukses waarborg nie, is dit goeie nuus dat dit na die EIF gaan, wat afvalbestuur sal bevorder.

"Die heffing sal die verbruiker daarvan bewus maak om nie net vir plastieksakke te betaal nie, maar om deur die regte herwinningskanale van hierdie sakke ontslae te raak," het Witt gesê.

"Dit kom op die gedrag van die verbruiker neer: As jy die sak hergebruik, is dit goed. As jy dit herwin, is dit nóg beter."

Witt prys die plaaslike maatskappy Plastic Packaging.

"Dit is briljant dat hulle nuwe vuilgoedsakke uit die plastiek maak wat hulle by hul herwinningsaanleg op Okahandja herwin. Dit is die volle herwinningsiklus. Hulle vervaardig die sakke, herwin dit en maak nuwe sakke daaruit - alles in Namibië."

Plastic Packaging verwelkom veral die verbod op plastieksakke met koolsuurkalsiumsout, sê die produk- bemarkingsbestuurder, me. Anfre Oosthuizen.

"Dit is teen ons beleid om so 'n produk in die mark in te stoot. Ons vervaardig glad nie hierdie produkte nie en is absoluut gekant daarteen dat hierdie gevaarlike produkte ingevoer word," het sy beklemtoon.



Oosthuizen meen ook die heffing moet vir nuwe afvalbestuurgeriewe aangewend word en om die land skoon te hou.

"'n Skoonmaakkultuur moet by Namibiërs gekweek word sodat rommel nie gestrooi word nie. Gooi rommel in 'n asdrom en herwin dit," het sy gesê.

Die kabinet het die ministeries van finansies en die omgewing en toerisme se voorbereiding van konsepregulasies vir nuwe maatreëls volgens bestaande prosedures deur die wette op doeane en aksyns, die omgewingsbeleggingsfonds en omgewingingsbestuur goedgekeur.