08 March 2018 | Landbou

Japan se Wagyu maak debuut in Namibië

Die kaviaar van beesvleis

Ronelle Rademeyer - Beesvleis van die Japanse Wagyu-ras bied ’n smaaksensasie wat internasionaal hoog in aanvraag is en deur verbruikers as statussimbool beskou word.

Dit word nie verniet die kaviaar van beesvleis genoem nie. Die rede vir die smelt-in-die-mond ervaring is die binnespierse vetverspreiding, of marmering.

Die vet is boonop onversadig en dus van die gesonde soort wat nie hartvatsiektes veroorsaak nie.

Dié wonderras is Dinsdag tydens ’n inligtingsdag aan Namibiese vleisprodusente bekend gestel. Dit is deur mnr. Johan Orffer, voorsitter van die nuutgestigde Namibiese Wagyu-vereniging, gereël en deur meer as 100 belangstellendes bygewoon.

Dr. Fanie Steyn, voorsitter van die Wagyu-vereniging van Suid-Afrika en een van die sprekers, sê die grootste uitdaging wat produsente in die buurland het, is om in die vraag na hierdie gesogte produk te kan voorsien.

“Dit is ’n lang waardeketting wat gevestig moet word. Verder moet produsente besef dit is ’n langtermynbelegging. Die genetika waarin jy vandag belê, sal eers oor drie jaar ’n uitkoms hê,” sê hy.

In Suid-Afrika sal dit die eerste ras wees met volle naspeurbaarheid. Die bedryf gaan dit ook ’n stappie verder neem en met DNS-toetse op die karkas kan bewys dit bevat ten minste 50% Wagyu.

’n Nuwe graderingstelsel is ook vir hierdie vleis nodig wat die gehalte van die marmering evalueer.

Die bekende dr. Michael Bradfield, stigter van Breedplan SA, is onlangs as dié vereniging se uitvoerende hoof aangestel om strategiese beplanning en ontwikkeling te stuur.

Hy sê die visie is om die Suid-Afrikaanse beesvleisbedryf uit sy “armoede-ingesteldheid” te lei en in ’n hoogs winsgewende bedryf te omskep.

Volgens hom is nagenoeg 20 000 beeste in die buurland verlede jaar met saad van Wagyu-bulle geïnsemineer. Dit is nadat 5 000 semen-strooitjies en 3 000 embrio’s na Suid-Afrika ingevoer is.

Mnr. Brian Angus, wat sedert 1999 by Arlington in die Vrystaat met Wagyu’s boer, sê net sowat 250 Wagyu-beeste het Japan in die 1990’s verlaat voordat dié land se regering ’n verbod op die uitvoer van hierdie diere of hul genetika geplaas het.

Die genetika wat tans buite Japan beskikbaar is, is van hierdie nagenoeg 250 diere afkomstig.

Die grootste Wagyu-produsent buite Japan is ‘n Australiese teler wie se kudde uit 6 000 opreggeteelde diere bestaan.

Hy kry tot 300 Australiese dollar per kilogram vir vleis met ’n marmering van 9+, wat die hoogste gradering is. Dit is ongeveer N$3 000 per kilogram.